Diereliefhebbers en ondernemings kan nou ’n groot verskil by die Bethal DBV maak
Ondernemings en lede van die publiek kan nou ’n hok by Bethal DBV borg.
Diereliefhebbers en plaaslike ondernemings kan nou ’n groot verskil by die Bethal DBV maak deur by hul nuwe hokprojek betrokke te raak.
Dié DBV sorg vir bykans 60 honde en katte per maand en hoop om deur dié projek te loods, die diere in hul sorg se omstandighede te verbeter.
Mense kan nou ’n hok borg en sodoende die lewensgehalte van die diere verbeter.
“Mense wat voorheen wou help maar nie self diere kon aanneem nie, kan nou ’n verskil maak,” het me. Laurna Coetzer, inspekteur, gesê.
Vir R500 per maand, kan die diere binne die hokke namens die borge gevoer, bederf en versorg word.
Die hokke word ingerig en mooigemaak deur die borge met ’n bedjie, warm komberse en speelgoed.
As ’n borg die hok vir ses maande of meer borg, word ’n bordjie met die persoon of onderneming se naam teen die hok opgerig.
Daar is 38 hokke vir borge om van te kies.
Vir meer inligting, skakel Bethal DBV by 017 647 5360.




