Al wat serebrale verlamming-lyer van Bethal soek, is ’n paar stewels wat pas
Shanel Nunes weeg weens hormonale probleme meer as ’n 100kg en benodig ’n elektriese rolstoel sodat haar oppasser en haar ma makliker na haar kan omsien.
Die 15-jarige Shanel Nunes is nie soos kinders van haar eie ouderdom nie en is heeltemal van haar ma, me. Madelein van Staden, afhanklik.
Shanel ly aan serebrale verlamming en bestee meeste van haar tyd in ’n rolstoel.
Volgens me. Van Staden was Shanel by geboorte blou en dokters het vir etlike minute aan haar gewerk voordat sy uiteindelik haar eerste asem ingeneem het.
Vir me. Van Staden was dit ’n vreesaanjaende ondervinding, maar die dokters het Shanel aan haar gegee en gesê dat sy gesond is.
“Ek het vier dae later besef dat iets fout is met haar.
“Die dokters het my egter herhaaldelik verseker dat sy gesond is.”
Me. van Staden het vermoed dat Shanel weens die tekort aan suurstof tydens geboorte breinskade opgedoen het.
Shanel het op driejarige ouderdom steeds nie gekruip of begin loop nie en me. Van Staden het besluit om haar te leer om te loop.
Sy kon steeds nie praat of self eet nie en haar ontwikkeling was ver agter dié van ander kinders van haar ouderdom.
“Haar lyfie was normaal, maar sy kon nie doen wat haar maatjies doen nie.”
Shanel is op sesjarige ouderdom met outisme en geweldige breinskade gediagnoseer.
“Haar lyfie het binne ’n kwessie van maande begin kromtrek en sy is met serebrale verlamming gediagnoseer.
“Haar liggaam het verswak en die frustrasie wat sy ondervind het, het veroorsaak dat sy aggressief geword het.”
Daar is ook vasgestel dat Shanel, wat nou meer as 100kg weeg, hormonale probleme het wat veroorsaak dat sy baie vinnig gewig optel.
Die trust wat Shanel se pa voor sy dood in 2014 vir haar gestig het, het ingestem om vir ’n versorger, me.Krestiba Bobo, te betaal.
Me. Van Staden werk hard om in al haar dogter se behoeftes te voorsien en soms gaan dit swaar, maar sy verloor nooit moed nie.
Hoewel sy met die hulp van die trust vir Shanel kan sorg, kan sy nie met haar inkomste dinge wat sy as luukshede beskryf, bekostig nie en is daar nie geld om ’n elektriese rolstoel wat Shanel nodig het, aan te koop nie.
Omdat Shanel so swaar is, raak dit moeilik vir haar ma en haar oppasser om haar te beweeg.
Selfs om haar badkamer toe te neem, raak ’n uitdaging.
Shanel se grootste begeerte is ’n paar stewels wat haar pas.
Omdat haar voete kromgetrek het, is ’n mansgrootte agt tekkies al wat haar pas.
Me. Van Staden se grootste droom vir Shanel is dat sy eendag weer sal kan loop en weer die kans sal hê om op ’n springkasteel te kan baljaar.
As jy wil help, kan jy die Echo/Ridge Times se kantoor skakel by 017 634 7591.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



