Local newsNews

Engela Scheepers groet Bethal na jare se getroue diens

Hoewel sy Bethal na 58 jaar groet, is daar baie herinneringe en staaltjies wat sy kan vertel.

Me. Engela Scheepers (83) is een van die bekendste Bethallers.

Hoewel sy Bethal na 58 jaar groet, is daar baie herinneringe en staaltjies wat sy kan vertel.

“Dit is lekker om terug te dink aan al dié dinge, maar ek hou nie daarvan om oor myself te praat nie.”

Sy is in die Ermelo-distrik gebore en haar laerskoolloopbaan het by ’n plaasskooltjie op Winkelhaak begin.

Nadat dié skool gesluit is, moes hulle op die dorp skoolgaan en is sy by J.J. van der Merwe op Ermelo ingeskryf.

Me. Scheepers het al op skool provinsiale hokkie gespeel, asook op kollege.

“My pa het altyd op Bethal sake gedoen. Ons het saamgery en ek onthou dat my ma met elke rit na Bethal vir ons elkeen ’n klein blikkie kondensmelk gekoop het. Dít was nou die ‘treat’ van Bethal toe gaan,” het sy nostalgies vertel.

Me. Scheepers het sonder enige twyfel na skool by die destydse Normaal Kollege, wat nou as die Onderwys Kollege in Pretoria bekend staan, ingeskryf.

Sy het op Ermelo skool gegee voordat sy getroud is.

“Ek en my man, Wim Scheepers, is in 1959 getroud.

“Hy was ’n boer en het in die Bethal-distrik ’n plaas gehad.

“Nadat ons getroud is, het ek ’n Bethaller geword,” het sy gesê.

Hulle het twee kinders, ’n seun en ’n dogter, gehad.

Haar seun is egter sowat ses jaar gelede oorlede en dit is steeds baie moeilik vir haar om daaroor te praat.

Me. Scheepers het by Hoërskool Hoogenhout op Bethal as onderwyser begin aflos.

Haar lewe het egter in 1985 drasties verander toe sy saam en haar man in ’n motorongeluk was.

“Ek het agter in die voertuig gesit en het etlike beserings opgedoen, maar my man is dood. Die verlange het tot vandag toe nog nie gestop nie.”

Na haar man se dood, het sy by ’n skool op Kriel begin aflos en dit was waar haar Zoeloe-vaardighede handig te pas gekom het.

“Ek kan baie goed Zoeloe praat en verstaan, maar kan dit net nie skryf nie.

“Een dag in die klas het die kinders vreeslik rumoer en ek het hulle toe in Zoeloe aangespreek.

“Hulle was vreeslik verbaas en het met groot oë gevra: ‘Mam, can you speak Zulu?’ en daarna was daar baie minder probleme.”

Me. Scheepers was vir 28 jaar Bethal se VLU-tak se voorsitter.

“In dié tyd het dit vir my gevoel of ek iets beteken.

“Nadat ek as voorsitter bedank het, het ek gedink dat dit lekker sal wees omdat ek nou meer tyd sal hê. Wanneer dit byna weer tyd is vir die volgende VLU-vergadering, sit ek en wonder of daar ’n spreker gereël is en of alles reg is.

“Ek mis dit baie. Ek het baie by die VLU geleer en die lede se ondersteuning onder mekaar het uitgestaan.”

In die tyd dat sy die voorsitter was, het Bethal se VLU-tak die Aartappelfees wat jaarliks op Bethal aangebied is, se kroningsaand aangebied.

Me. Scheepers het vertel hoe Manuel Escorcio haar gekry het om saam met hom op die verhoog te dans tot die dag dat iemand vir haar vertel het dat daar ’n bom, wat nooit ontplof het nie, in die saal geplant is.

“My lewe was vol daardie tyd.

“Wanneer jy iewers in ’n ander dorp of provinsie was en jy het gesê dat jy van Bethal afkom, het die mense altyd gesê: ‘O ja, dit is waar die Aartappelfees gehou word’.

“Die hele omgewing het jaarliks na die fees uitgesien.”

Me. Scheepers gaan veral die vriendskapsbande wat sy op Bethal gemaak het, die meeste mis.

Sy gaan nou op Grootbrak in die Oos-Kaap in ’n aftree-oord woon.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button