Local newsNews

Francis se grootste passie is gimnastiek

Me. Francis Fourie is al op ’n jong ouderdom in die Olimpiese ontwikkelings span vir ritmiese gimnastiek opgeneem.

Sy het in Johannesburg grootgeword waar sy baie blootstelling aan ritmiese gimnastiek gekry het.

Me. Fourie was net vier jaar oud toe een van haar maatjies haar aangeraai het om saam met haar ’n gimnastiekoefening by te woon.

“Ek het ingestem en was versot op dié sport.

“My gimnastiekloopbaan het daar en dan begin.”

Me. Fourie was deel van die Gold Reef Rhythmic Gymnastics Klub.

Me. Morene van Rooyen was hul afrigter en is een van die eerste Suid-Afrikaanse afrigters wat ’n gimnas tot op Olimpiese vlak geneem het.

Dit was ’n groot prestasie vir Suid-Afrika en vir me. Van Rooyen om ’n atleet te hê wat aan die Olimpiese spele deel kon neem.

Terwyl me. Fourie in gr. 6 was, het haar afrigter haar potensiaal raakgesien.

Sy het toe deel van die Olimpiese ontwikkelingspan geword.

Hulle het ses jaar na mekaar die Suid-Afrikaanse Kampioene-kompetisie gewen.

“Dit is baie harde werk.

“Ek het ’n spesiale dieet gevolg en tot sewe ure ’n dag vir ses dae ’n week geoefen.

“Ons moes ook vakansiedae en skoolvakansies oefen,” het me. Fourie gesê.

Sy en haar span het ook die geleentheid gehad om aan die Gimnastrada deel te neem.

“Gimnastrada is wanneer al die soorte gimnastiek bymekaar gegooi word en jy nie as individu deelneem nie, maar as ’n span.

“Die span verteenwoordig hul land tydens die kompetisie.

“Dit gee ook buite-gimnaste wat nie op Olimpiese vlak deelneem nie, die geleentheid om hul land te verteenwoordig.”

Me. Fourie het ook netbal gespeel en aan atletiek deelgeneem voordat sy ernstig oor gimnastiek geraak het.

Sy het sielkunde en onderwys aan die Universiteit van Pretoria gestudeer.

Daar het sy vir ’n jaar by die Tuksklub gimnastiek afgerig.

Omdat sy lief vir kinders is en daarvan hou om met hulle te werk, het sy besluit om ’n kleuterskool te begin.

Sy het ook die behoefte vir ’n gimnastiekklub gesien.

Omdat dit me. Fourie se grootste passie is, het sy drie jaar gelede besluit om die Dinamika Ritmiese Gimnastiekklub te begin.

“Gimnastiek is op baie verskillende vlakke goed vir ’n kind se ontwikkeling.

“Dit help om die kind skoolgereed te kry en help met ruimtelike oriëntering, balans, selfvertroue, fiksheid en ontwikkeling van ’n goeie postuur.”

Skakel me. Fourie by 072 593 8198.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button