Baba Luke Britz is by die huis met suurstofmasjien en al
Baba Luke Britz van Secunda is op 14 Februarie op 28 weke gebore en het ’n skrale 1.035kg by geboorte geweeg.
Na ’n lang stryd in die hospitaal en baie oorplasings na hospitale is hy uiteindelik Vrydag, 7 Julie ontslaan.
“Ek is baie bly dat my seuntjie tuis is.
“Hy is nog aan ’n suurstofmasjien by die huis gekoppel, maar sterk goed aan.
“Dit is lekker dat ons almal nou onder een dak is,” het Luke se pa, mnr. Jimmy Brtiz, gesê.
Luke het 2,25kg geweeg en het tot net meer as 40cm gegroei.
Nadat die swelsel gesak het, het hy 2,04kg geweeg.
Luke is op 31 Mei dringend vanaf die Ermelo Staatshospitaal na die eMalahleni Provinsiale Hospitaal oorgeplaas.
Vandaar is hy weer na Evander Hospitaal oorgeplaas en ontslaan.
Me. Hanrie Britz moes ’n noodkeiser ondergaan nadat die vliese van haar vrugwatersak op 28 weke van haar swangerskap geskeur en die vrugwater uitgeloop het.
Dokters kan nie verduidelik waarom dit gebeur het nie.
“Dit was glad nie vir my lekker om Luke só te sien nie.
“Dit was baie moeilik toe hy so ver van ons af weg was.
“Almal is baie bly dat hy nou by die huis is,” het me. Britz gesê.
Die gesin se mediese fonds het nie die neonatale intensiewe sorgeenheid betaal nie en die eenheid se rekening beloop steeds meer as ’n miljoen rand.
Hoewel hulle reeds geldinsamelings-geleenthede aangebied en verkopings gehou het, moet hulle steeds meer as ’n miljoen rand betaal.
“Ons bedank almal wat elke geldinsamelingsgeleentheid tot dusver ondersteun het, asook diegene wat geld inbetaal het,” het me. Estie Smit, Luke se ouma, gesê.
Luke se oupa, past. Hannes Smit (50), is op 2 Mei aan ’n hartaanval dood.
Hulle was op pad hospitaal toe om vir Luke te gaan kuier, toe dit gebeur het.
As jy vir Baba Luke kan help, kan jy geld in die volgende rekening inbetaal of die verskeie geleenthede ondersteun waar daar geld vir hom ingesamel word: Luke Britz, Capitec Bank Secunda-tak, spaarrekeningnommer 151 424 3545.





