MunicipalNews

EKSKLUSIEF AANLYN: Inwoners moedeloos oor watervermorsing

Volgens ’n mediaverklaring van die DA wat op 12 Junie uitgereik is, is die Lekwa Munisipaliteit die groot sondebok wat watervermorsing aanbetref.

Inwoners van Standerton is reeds ’n geruime tyd moedeloos oor water wat meer in die strate as in die pype afloop.

Dit geld vir skoon- sowel as rioolwater.

Volgens mnr. Johannes van der Wath, kiesafdelingvoorsitter van die DA, het hy en inwoners die lekplekke verskeie kere by die Lekwa Munisipaliteit aangemeld.

Die lekkasies by Laerskool Standerton wat reeds twee maande duur, die dorp se krieketvelde en die kruising van Paarl- en Handelstraat kom onwillekeurig by ’n mens op.

Volgens me. Thobeka Mtshiselwa, kommunikasiebestuurder by die munisipaliteit, ontvang die oproepsentrum daagliks klagtes oor diensleweringskwessies wat waterlekkasies insluit.

Daar is altyd ’n plan om sulke klagtes aan te spreek en elke klagte is kompleks en het verskillende maniere waarop dit hanteer word.

“Die munisipaliteit probeer altyd reageer op elke klagte afhangende van die kompleksiteit van die probleem,” het me. Mtshiselwa gesê.

Volgens ’n mediaverklaring van die DA wat op 12 Junie uitgereik is, is die Lekwa Munisipaliteit die groot sondebok wat watervermorsing aanbetref.

Die munisipaliteit staan op 94 %, gevolg deur Dipaliseng (Balfour) op 66 % en eMalahleni (Witbank), Bushbuckridge asook Victor Khanye (Delmas) munisipaliteite op 50%.

Volgens me. Mtshiselwa is die 94% die kombinasie van tegniese- en inkomsteverliese.

Sy het gesê dat die mediaverklaring nie die volle prentjie oor tegniese- en inkomsteverlies gee nie.

Sewe loodgieters is in diens by die munisipaliteit.

Op die vraag oor waterkapasiteit en inwonerverbruik het me. Mtshiselwa geantoord dat 38 megaliter daaglikse uit die Vaalrivier onttrek en gesuiwer word om aan behoeftes te voldoen.

Sommiges sal deur die rioolreuk na hul neuse gryp, maar in Stanwest was dit ’n rivier wat by ’n huis in Kosmosstraat tot by die stoep beweeg het.

Die inwoners het gesê dat hulle raadop oor die stank was en dat niemand in sulke omstandighede moet lewe nie.

Volgens me. Mtshiselwa was hulle bewus van dié rioollek.

Sy het gesê dat hulle die fout sou identifiseer en ’n tydsraamwerk aandui om dit op te los.

Intussen het mense wat die pad moet gebruik, ’n plan met betonblokke gemaak om oor die riool te kom.

Blykbaar gebruik kinders dieselfde roete om skool toe te gaan en selfs ’n vrou met ‘n klein babatjie moes oor die blokke beweeg en haar voetwerk ken om nie in die rioolwater te val nie.

Volgens inwoners van Kosmosstraat het bejaardes ook die beton gebruik in die vrees om in te val.

’n Boukontrakteur kon nie voortgaan met bouwerk in Collingstraat nie omdat die riool die nuwe rioolstelsel blokkeer het.

Volgens hom het dit die bouproses tot stilstand gedwing.

Die rioollek is 12 Julie herstel en inwoners was oorstelp van vreugde.

“Nou kan ons weer normale, vars lug inasem in plaas van die voortdurende, vrot reuk,” het ’n inwoner gesê.

Blykbaar het ’n groot klip die oorloop veroorsaak en dit is nou reggemaak.

Met verwysing na die begroting wat vasgestel is vir die instandhouding en herstel vir water- en rioolprobleme het me. Mtsihselwa gesê geld is beskikbaar, maar laasgenoemde is afhanklik van die kontantvloei, wat beteken dat betaling van dienste deur die gemeenskap noodsaaklik is om klagtes oor dienslewering te hanteer en die gemeenskap verder te dien tot ’n aanvaarbare standaard.

’n Rivier van rioolwater wat van Collingstraat in Stanwest na Kosmosstraat gestroom het.
’n Rioollek in Colignystraat wat al vir maande stroom.
’n Vrou en haar baba moet hulle stap ken om nie in die rioolwater te val nie.
Water wat in Paarlstraat afstroom.
’n Waterlek wat al ’n geruime tyd by die dorp se krieketveld is.
’n Waterlek by Laerskool Standerton wat meer as twee maande gelede aangemeld is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button