Bekende apteker sterf
Die egpaar het in 2010 as woonstelbewoners by die SAVF-Huis ingetrek waar hy verlede jaar sy 90ste verjaarsdag as oudste woonstelbewoner gevier het.

Bekende Ermeloër oom Dries Cronjé is Maandagaand op die ouderdom 91 aan hartversaking oorlede.
Andries Johannes Cronjé is op 13 Mei 1926 in Fairlands, Johannesburg gebore.
Hy het sy laerskoolloopbaan aan Laerskool Fairlands voltooi waar sy vader skoolhoof was en later sy matriek by Hoërskool Monument in Krugersdorp geslaag.
Ná skool het oom Dries sy vakleerlingskap in aptekerswese by Patterson se Apteek in Rosebank geloop en later sy studies aan die Tegniese Kollege, Durban voltooi.
Ná sy studies het hy as reisiger vir Park Davis, ‘n farmaseutiese maatskappy gewerk, waar hy onder die Engelsprekendes as Koos bekend was.
Oom Dries het daarna vir baie jare as aflosapteker in die destydse Transvaal en Vrystaat gewerk.
In 1953 is oom Dries en tannie Mien getroud en het hulle hul in 1954 in Ermelo kom vestig waar oom Dries Cronje’s Apteek geopen het.
Oom Dries het die apteek 42 jaar op die dorp bedryf. In die begindae was dit ‘n klein winkel wat eers langs die poskantoor geleë was en ná 14 jaar na die gebou op die hoek van Kerk-en De Clercqstraat geskuif het. Die egpaar het die onderneming wat later bekend gestaan het as die voorste kosmetiekverkopers in Ermelo saam bedryf.
Die egpaar was 62 jaar lank getroud tot tannie Mien se afsterwe in Februarie verlede jaar. Twee kinders, Elsabé en Theunis, is uit die huwelik gebore.
Theunis het hulle in 1992 op die ouderdom van 33 jaar ontval.
Die egpaar het in 2010 as woonstelbewoners by die SAVF-Huis ingetrek waar hy verlede jaar sy 90ste verjaarsdag as oudste woonstelbewoner gevier het.
Oom Dries se familie het hul dank uitgepreek teenoor Dudu Nhlanhla wat in die afgelope tyd dag en nag oor oom Dries gewaak het.
Hy laat sy suster Barbie Bredenkamp (82), dogter Elsabé Ray, skoonseun Andrew Ray en kleindogter Isabel Ray agter.
Oom Dries se begrafnis vind Dinsdag, 25 Julie om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk in Kleynhansstraat plaas. Die diens sal gelei word deur dr. Kobus Erasmus.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.



