Laurna Coetzer se lewe draai om DBV se diere
Bethal DBV spog deesdae met baie vrywilligers wat met die honde kom speel.
As die personeel van Bethal DBV diere moet uitsit, praat hulle met die diere en vra verskoning dat mense hulle so sleg behandel het.
Volgens me. Laurna Coetzer, inspekteur en bestuurder van die Bethal DBV, het verlede week gesê sy wil niks anders in haar lewe doen, as om vir diere te sorg nie.
“Ek was nooit bevoorreg om kinders te hê nie en was nog altyd baie lief vir diere, maar ek het nooit by die DBV gekom nie.
“Sedert ek hier begin werk het, het die skille van my oë afgeval en besef ek nou wat ek al die jare gemis het.”
Me. Coetzer het vir jare voertuie verkoop en nadat sy 18 maande lank bedlêend was weens ’n virus in haar heup, het sy op 1 Februarie 2016 by Bethal DBV begin werk.
Volgens haar is elke dag ’n uitdaging, maar dat sy soggens nie kan wag om by die werk te kom nie.
“My hele lewe het verander en dit is die wonderlikste gevoel op aarde as jy ’n klein bang hondjie ingekry het, en met die aandag wat jy hom gee, hy dan ontpop.”
Sy het gesê wanneer honde aangeneem word, huil sy haarself “besimpeld”, maar as die nuwe eienaars foto’s stuur en wys hoe goed dit met hulle gaan, bring dit hope vreugde.
Omdat Bethal ’n klein gebied is en die DBV nie geld mag insamel buite hul gebied nie, kry hulle swaar.
Mense en ondernemings kan hokke borg teen R500 per maand.
Kos en ander noodsaaklikhede is ook welkom.
Belangstellendes kan die FBV op Facebook volg.
Skakel hulle by 017 647 5360.
Lees die volledige berig in die Ridge Times koerant.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.




