Local newsNews

Secunda AP Kerk wil 30 jaar se bestaan met hul eie gebou vier

Daar is 156 beleidende lidmate en nie minder nie as 42 dooplidmate.

Die gemeente van die Afrikaanse Protestantse Kerk op Secunda glo die afgelope 30 jaar daaraan om deur liefde, ondersteuning en broederskap die Woord van God daagliks uit te leef.

Etlike weke nadat die AP Kerk in Suid-Afrika in 1987 gestig is, het die Secunda-gemeente hul deure oopgemaak.

Die gemeente het eers nie ’n kerkgebou of perseel gehad nie en het kerk in die Kinross-stadsaal op Sondae gehou.

Een van die stigterslede, mnr. Pieter Scholtz, het vertel dat die gemeentelede soms voor kerk die stadsaal moes opruim nadat daar die vorige aand ’n danspartytjie in dié saal gehou is.

Die gemeente het besluit om te trek en het vir die volgende paar jaar by ’n plaaslike laerskool bymekaar gekom.

Vroeg in die 90s het hulle uiteindelik ’n meer permanente oplossing gekry, en het op 17 Maart 1991 in vier van die tydelike geboue wat deur Sasol verskaf is, ingetrek.

Die AP Kerk Secunda het in 1991 hul eie kerkgebou gekry, al was dit net tydelike geboue wat die gemeentelede self ingerig het as ’n kerksaal.

Mnr. Scholtz het verduidelik hoe die gemeente dié geboue ingerig het: “Ons het die geboutjies só ingerig dat ons ’n kerksaal het en klassies waar die kinders verbondsonderrig kon kry.”

Een van die gemeente se langstaande tradisies is om elke Sondag na kerk saam tee en koffie te drink en ’n snytjie koek te eet.

“Ons gemeente is in wyke opgedeel en elke week kry een wyk kans om die koek en tee na die tyd te reël. Dit het sommer baie vinnig een van ons lekkerste tradisies geword en dra beslis daartoe by dat ons baie meer soos ’n uitgebreide familie voel as net ’n klomp mense wat mekaar een keer ’n week sien.”

Die gemeente was ook gereeld die eerste gemeente vir verskeie jong dominees wat pas klaar gestudeer het.

Ds. Petrus Janse van Rensburg, wat in sy eerste maand by die Secunda AP Kerk ’n begrafnis, ’n doop en die bevestiging van kerkraadslede moes behartig, het tydens sy eerste huweliksbevestiging, nadat die bruid en bruidegom hul hoorbare antwoord gegee het, mooi vir die jong egpaar geglimlag en sonder om te dink gesê: “Mooi man!”

Omdat die gemeentelede so naby aan mekaar leef en sulke hegte bande het, sal hulle selfs nou nog gereeld spontaan reël om saam te gaan kamp, saam te braai na kerk of sommer net oor en weer te kuier.

Deur die jare het die AP Kerk bekend geword vir die lekkerste pannekoek by markte en kermisse.

Daar is 156 beleidende lidmate en nie minder nie as 42 dooplidmate.

Die groot aantal jong gesinne wat deel vorm van die gemeente, sorg ook vir dinamiek en gesinne met kinders sal van buurdorpe af ry om deel te hê aan die genootskap.

Vanjaar is die AP Kerk op Secunda se feesjaar en dit is ook die jaar waartydens die gemeente besluit het om ’n kerkgebou te bou.

“Ons het ’n erf op Secunda, nogal in Kerkstraat, en beplan om vanjaar ons permanente kerkgebou daar te bou. Ons het groot geldinsamelingsprojekte ten bate van ons boufonds vanjaar en ons het reeds argitekplanne en glo dat ons sukses sal behaal. Dié gemeente het, deur die goedheid van God, nog nooit tekort geskiet nie en ons lidmate leef uit dankbaarheid.”

Behalwe vir die bouprojek, het die gemeente ook ander projekte waarby hulle al etlike jare betrokke is.

“Ons ondersteun ’n kinderhuis waar ons 37 kinders se sakgeld uit ons gemeente borg, en ook moeite doen om vir die kinders iets te probeer beteken.”

Met sangoptredes deur Juanita du Plessis en haar kinders, ’n groot viertrekvoertuigdag later vanjaar en ander opwindende projekte glo dié gemeente dat hulle binnekort hul doelwit sal bereik.

“Ons is opgewonde oor ons gebou en is reg om te groei en uit te brei.”

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button