Editor's choiceLocal newsNews

Dunhin se roudiens vind vandag plaas

Hy het onder andere gevra wanneer vergewe God ’n mens nie, waarop sy geantwoord het: “Wanneer jy God nie as jou verlosser aanvaar nie.”

‘n Lewendige en uitbundige kind is hoe die Fourie-ouerpaar hul 16-jarige seun, Dunhin, beskryf het nadat hy verlede Woensdag aan ’n skietwond in die kop gesterf het.

Mnr. Koos en me. Marietjie Fourie en hul twee dogters, Zani en Ina-Mari, het gesê Dunhin was die liefdevolste mens denkbaar.

Me. Fourie het gesê dat sy omstreeks 4nm die betrokke dag in haar kamer op haar bed besig was om op haar skootrekenaar te werk.

Dunhin het die kamer met sy Bybel in die hand binnegekom en gesê dat hy ’n paar vrae wil vra.

Hy het onder andere gevra wanneer vergewe God ’n mens nie, waarop sy geantwoord het: “Wanneer jy God nie as jou verlosser aanvaar nie.”

’n Ander vraag was hoekom het God gemaak dat mense nie meer so oud word na die sondeval nie.

Nog ’n vraag was: “Dink Mamma ek sal hemel toe gaan?”

Me. Fourie het geantwoord dat hy beslis hemel toe sal gaan, want daar is niks waaroor sy sekerder is nie.

’n Paar minute voor sy dood het Dunhin en sy pa nog oor die foon gesels.

Dit was soos altyd ’n opgewekte en liefdevolle gesprek tussen pa en seun.

Omstreeks 5nm het me. Fourie haar jongste dogter gevra om haar broer te gaan roep.

Sy het teruggekom en gesê hy lê op die grond en dat hy haar nie antwoord nie.

Me. Fourie het gaan kyk en toe sy aan hom raak, het sy besef dat hy dood is.

Dunhin het op vyfjarige ouderdom breinvliesontsteking opgedoen en dit het tot Discryphia (leergestremdheid) gelei.

Hy was in ’n gewone skool tot in gr. 4 en me. Fourie het toe haar loopbaan opgegee om hom tuisonderrig te gee.

Op tienjarige ouderdom is hy met obsessiewe kompulsiewe gedrag gediagnoseer.

Ongeag sy terugslae, het hy sowat drie weke gelede sy eerste eksamen geskryf.

Dunhin het die Algemene Opvoedkundige Diploma wat gelykstaande is aan matriek, geslaag.

Mnr. Fourie het met trots vertel dat Dunhin ’n kundige was oor die tweede wêreldoorlog.

Hy was ook die jongste karateka in die land wat ’n swart gordel van WJKA-Ronin in sy dissipline verwerf het.

Dunhin se droom was om eendag ’n programmeerder te word.

Die roudiens vind vandag (Woensdag, 2 Augustus) om 11vm plaas vanuit die Antheos Kerk op Bethal.

Hy laat sy ouers, twee susters, asook sy swaer Ewan, wat hy as sy broer beskou het, agter.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button