Morsjorse ontsier woonbuurte
Oortreders sal aanspreeklik wees vir die koste van die opruimingswerk en is ook onderhewig aan 'n boete

“Onbedagsame inwoners wat eenvoudig hul vullissakke enige tyd op enige plek stort is onaanvaarbaar.”
So sê ‘n onstelde inwoner van Camdenlaan nadat sy Maandagoggend vir die soveelste keer moes sien dat iemand hul vullissakke anderkant die heining in die veld gestort het.
Wat sy ook nie kan verstaan nie, is dat die munisipaliteit net die volgende dag in hulle gebied vullis verwyder.
“Hoekom kon die mense nie net ‘n dag wag en die vullis op die sypaadjie sit om verwyder te word nie?”
Volgens haar is dit ook onredelik om te verwag dat die munisipale werkers oor die heining moet klim om die sakke te verwyder.
Die Hoëvelder het by die munisipaliteit aangeklop om uit te vind wat inwoners te doen staan om die onwettige stortings te voorkom en wat die nagevolge vir oortre-ders is as hulle betrap word.
Volgens ‘n munisipale regulasie wat van 2004 geld, mag niemand enige rommel of afval in enige openbare plek, oop erf of gebied of in waterstrome stort nie.
Dit geld ook diegene wat vir ander mense werk.
Werkgewers kan aanspreeklik gehou word sou ‘n werker dié regulasie oortree.
Oortreders sal aanspreeklik wees vir die koste van die opruimingswerk en is ook onderhewig aan ‘n boete van nie meer as R2 000 nie.
Die munisipale woordvoerder, mnr. Mandla Zwane, vra dat alle onwettige stortings van rommel en vullis by die munisipale oproepsentrum (017 801 3500) aangemeld moet word.



