Mpumalanga Bewaringseenheid ondersoek draadstrikke by Bethal Gholfklub
Bethaller se hond dood nadat dit in draadstrik verstrengel geraak het.
Me. Sonja Serfontein is na ’n maand steeds hartseer, maar ook kwaad, nadat haar poolhond (Husky), Chico, dood is nadat hy in ’n draadstrik verstrengel geraak het.
Die strik waarin Chico verstrengel geraak het, was tussen die gholfbaan en die begraafplaas op Bethal.
Sedertdien het me. Annalie Morgan, bestuurder by Bethal Gholfklub, reeds nege strikke verwyder.
Volgens haar patrolleer sy die heining nou op ongereelde tye.
Me. Serfontein het op haar beurt twee dae nadat haar hond dood is, ses strikke verwyder. Die strikke word blykbaar gestel vir bokkies en hase.
Me. Serfontein se Chico is op 30 Junie dood.
Sy en haar hond het daagliks op die gholfbaan gaan stap.
Hulle het die meeste kere, soos daardie betrokke dag, by die hek bo in Uitbreiding 5 ingegaan, maar ander kere het sy by die opening by die begraafplaas en die gholfbaan ingegaan.
Chico het altyd saam met haar gestap, maar ook rondgehardloop en gespeel, maar altyd weer met haar opgevang.
Die betrokke dag het hy weer vooruit gehardloop, maar het nie na haar teruggekom nie.
Sy het hom gaan soek en hom gekry waar hy aan die strik wat vas aan die draadheining was, gehang het.
“Ek weet nie of Chico gely het nie. Sy oë was oop en het ’n wilde uitdrukking gehad.”
Sy het mond-tot-mond asemhaling toegepas in die hoop om hom by te bring.
Volgens haar pak die mense wat die strikke stel, dit toe met takke en blare, so mens kan dit nie sommer sien nie.
“Ek loop reeds bykans ’n jaar daar en deesdae sien ’n mens nie meer bokkies nie.”
Buiten haar groot hartseer, is sy woedend want iets moet hieraan gedoen word.
“Baie mense loop daar met hul honde en so iets kan enige een oorkom. Dit was lekker om daar te stap, maar ek is nou bang om weer met enige van my honde soontoe te gaan.”
Me. Laurna Coetzer, bestuurder van Bethal DBV, het gesê dat sy mnr. Johan Coetser van Mpumalanga se bewaringseenheid geskakel het en dat hy onderneem het om sy veldwagters na Bethal Gholfklub te stuur om ondersoek in te stel.
Me. Coetzer het gesê dat die DBV net natuurbewaring kan bystaan en raad aanbied in terme van die Dierebeskermingswet.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



