Secunda-vrou uiteindelik sonder pyn na heupvervanging
“Ek is nou reg vir die res van my lewe!”
“Ek het vir die eerste keer in jare nie pyn nie!”
Me. Selma Swanepoel, wat met ’n ontwrigte heup gebore is en op 14 jaar ernstig in ’n motorongeluk beseer is, het ernstige osteoartritis van haar regter heup ontwikkel.
Weens die skade aan haar heup en die geboorte-afwyking, moes sy eintlik al jare gelede ’n heupvervanging gekry het, maar omdat sy so ernstig beseer is in die motorongeluk en van voor af moes leer loop, eet en praat, was dit nie moontlik nie.
Sy het weer aan die begin van die jaar ’n spesialis gaan sien oor haar aanhoudende pyn en hy het dit duidelik gemaak dat sy nou nie meer ’n keuse het nie.
“Hy het verduidelik dat ek nie ’n ander opsie het nie en ook hoe gevaarlik dit was om met die osteoartritis te leef. Ek kon op enige oomblik val en myself verder beseer, om nie eers te praat van die invloed van die pynmedikasie nie.”
Sy het vertel dat sy op die ou einde hoë dosisse sterk pynmedikasie moes gebruik om deur die dag te kom.
“Ek was baie bang vir wat dié pille aan my kon doen, dit het nie reg gevoel om sulke sterk medisyne te moes drink nie.”
Die probleem was egter dat hoewel haar mediese fonds vir die operasie en hospitalisasie sou betaal, die nuwe heupprostese nie deur die fonds gedek is nie.
“So ’n prostese kos bykans R50 000 en ek het nie die geld gehad nie.”
Teen Mei het die pyn en die risiko vir val ondraaglik geword en me. Swanepoel en haar vriend, mnr. Phillip Groenewald, het besluit om te probeer aansoek doen vir ’n lening om die prostese te betaal.
Die lening is op 31 Mei goedgekeur en me. Swanepoel het op Maandag, 12 Junie uiteindelik haar nuwe heup gekry.
“Ek is ongelooflik dankbaar vir my dokters en almal wat betrokke was by my heupvervanging.”
Die rekeninge vir die fisioterapie en nasorg was steeds ’n bekommernis.
Omdat me. Swanepoel vir die eerste keer in jare sonder pyn of medikasie is, sien sy uiteindelik uit na die somer.
“Ek gaan kan stap en saam met my seun speel en ek hoef uiteindelik nie meer al daardie pille te drink nie.”
Sy is ook opgewonde daaroor om weer te begin werk en is dankbaar vir haar kollegas en bestuurder se deurlopende ondersteuning.
“Ek is nou reg vir die res van my lewe!”
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



