Nóg ’n Bethaller kry tweede kans op lewe na nieroorplanting
“Ek was baie bang voor die operasie en het op een tydstip vir my ma gesê ons moet eerder huis toe gaan, maar my ma het vasgeskop en gesê dat ek die oorplanting moet kry.”

Me. Esmari Herselman (28) is dankbaar vir die tweede lewe wat sy ontvang het, nadat ’n nier in April in haar oorgeplant is.
Sy het sedert verlede jaar aan nierversaking gely en tydens die diagnose het die spesialis aan haar gesê dat sy slegs ses maande het om te leef as daar nie werk van haar toestand gemaak word nie.
Me. Herselman is op 19 September op die oorplantingslys geplaas.
Sy moes ook elke drie maande die spesialis in Pretoria besoek.
Tydens die besoek in April, is sy meegedeel dat daar ’n moontlike nier vir haar beskikbaar is.
Hulle wou weer toetse doen en omdat me. Herselman se mediese fonds dit nie betaal nie, het sy geweier dat die toetse weer gedoen word.
Haar oom, mnr. Jan Uys, het dit egter opgevolg.
Me. Herselman het op 17 April omstreeks 7.15nm ’n oproep van die hospitaal ontvang om haar mee te deel dat sy ’n nier kan kry.
Sy het vertel dat sy na die operasie ’n briefie geskryf het vir die ouers van die student van wie sy die nier ontvang het.
“Ek het vir hulle dankie gesê vir die nier en dat ek ontsettend jammer is dat hul dogter dood is.
“Ek het besluit om my nuwe nier Liefling te noem omdat ek van mening is dit moet ’n naam hê.”
Me. Herselman het ook oogprobleme en is gediagnoseer met makulêre degenerasie wat beteken sy sukkel om fyn detail te sien.
Die N.G. Kerk se Oosgemeente het ’n trustfonds vir haar gestig om te help met die groot uitgawes wat nie deur haar mediese fonds gedek word nie.
Die fonds word deur die prokureursfirma Cohen, Cronjé en Van der Walt geadministreer.
Die rekeningnaam is Esmari Herselman Nierfonds Trustrekening, Eerste Nasionale Bank, rekeningnommer 516 7100 4947, takkode 270144.
Lees die volledige berig in die Ridge Times.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.




