
Die Standerton AfriForum-tak het op 5 Augustus ’n skoonmaakaksie in samewerking met Go Garbage, ’n plaaslike kontrakteur, by die begraafplaas in Britsstraat geloods.
Dít volg nadat die Standerton-begraafplaas al vir ’n geruime tyd lank in ’n haglike toestand is en dit ook onveilig vir die gemeenskap is om hul geliefdes se grafte te besoek.
AfriForum het op 11 Julie ’n versoekskrif en ’n petisie aan mnr. Linda Tshabalala, voormalige munisipale bestuurder van die Lekwa Munisipaliteit, oorhandig.
Die burgerregte-organisasie se eis dat die terrein voor 1 Augustus op ’n volhoubare wyse skoongemaak word, het nie geslaag nie.

“Ons wou saam met die munisipaliteit aan ’n oplossing werk, maar ongelukkig blyk dit dat die munisipale bestuur geen respek vir die gemeenskap het nie,” het mnr. Jaco Taljaard, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak, gesê.
Die begraafplaas sal na afloop van die inisiatief weer skoon, veilig en toeganklik wees.
Mnr. Hillel Coetzer, streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes, het gesê gemeenskappe kan die toekoms in hul eie hande deur selfdoenaksies neem.
“Inisiatiewe soos dié skep hoop en is ’n voorbeeld van hoe selfstandigheid deur die gemeenskap bewerkstellig kan word.”



