Local newsNews

Nege-jarige dogtertjie beveg sistiese fibrose

Sy was selfs een maal dood, maar dokters kon haar bybring.

BETHAL – Lizette Neviling is nou nege jaar oud, maar weeg ’n skrale 17kg.

Haar pankreas werk glad nie en sy moet spesiale pille drink wat help om haar kos te verteer.

Omdat sy met sistiese fibrose gebore is, het die lewe ander draaie met haar en haar ouers geloop.

Lizette is nou permanent aan ’n suurstofmasjien gekoppel en slaap ook daarmee.

Sy was selfs een maal dood, maar dokters kon haar bybring.

 

Sistiese fibrose (cystic fibrosis) is ’n lewensgevaarlike en oorerflike siekte.

Een uit twee duisend kinders word daarmee gebore en een uit 20 mense dra die defektiewe geen, hoewel hulle nie die siekte het nie.

Die simptome van SF is dik, taai slym wat verhinder dat veral die longe en pankreas normaal werk.

Dik slym in die keel, chroniese hoes, gereelde respiratoriese infeksies, vel wat souterig is, poliepe in die neusgange, verstoppings in die ingewande en ander verwante probleme is die gevolge.

Soos met Lizette, is van die simptome soos vertraagde groei, swak gewigaanwas, moegheid en chroniese hoes duidelik sigbaar.

 

Die gesin vra of iemand hulle met die volgende sal kan help: ’n Vlekvrye staaltrollie waarop hulle al haar toerusting en medikasie kan bêre om dit so steriel as moontlik te hou, volroom melk, jogurt, kaas en vleis.

Omdat Lizette sukkel om te sluk, eet sy makliker jogurt.

Haar ma wil graag die aanvullings met volroom melk meng.

Hulle het ook geld vir diesel nodig vir wanneer hulle haar pille in Johannesburg moet gaan haal of selfs saamrygeleenthede is welkom.

Lizette is baie lief vir jellie.

Daar is ’n SF-onderbaadjie in Amerika wat help om die longe skoon te klop en dit is Lizette se ouers se droom om vir haar een van dié onderbaadjies te kry.

As jy die gesin op enige manier kan help, kan jy Lizette se ouma, me. Johanna Lombard, skakel by 064 907 5457 of haar oupa, Chris Lombard, by 064 908 8552.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button