Local newsNews

Sophie Hugo blink uit by kompetisies as bo-baas bakster en kok

Daar is slegs 12 resepte van regoor die streek gekies en me. Hugo se Fritatta resep was een van die 12 wat gekies is.

Me. Sophie Hugo is al ’n bekende onder lede van die VLU en ook ’n bo-baas bakster en kok.

Haar hande staan vir alles reg en sy geniet nuwe uitdagings.

Me. Hugo het in Junie vir ’n kompetisie van Clover ingeskryf.

Dit was ’n geborgde kompetisie en deelnemers moes ’n teegereg wat anders as die gewone Peppermint Crisp-tert is, maak.

Hulle moes steeds ’n Peppermint Crisp gebruik met Clover-produkte om dié ongewone tert te maak.

Dié kompetisie is op 1 Junie tydens ’n streekvergadering op Bethal beoordeel.

Me. Hugo het ’n vierde plek behaal uit 10 inskrywings van regoor die streek.

Nóg ’n kompetisie waarvoor sy ingeskryf het, is ’n Alzu-geborgde kompetisie.

Die produk van die jaar was eiers en daarom kon resepte van verskillende eiergeregte ingeskryf word.

Me. Hugo het ’n resep vir kerrie-eiers en ’n Fritatta ingeskryf.

Daar is slegs 12 resepte van regoor die streek gekies en me. Hugo se Fritatta-resep was een van die 12 wat gekies is.

Almal wie se resepte gekies is, het op 10 Junie op Middelburg bymekaar gekom en elkeen moes hul geregte voorberei en voorsit.

Die geregte is beoordeel en me. Hugo het ’n tweede plek behaal.

Hier is haar Fritatta-resep:

Fritatta

Bestanddele en metode:

Klits saam 20 eiers en ½ koppie room

Braai saam 2 uie gekap, 2 knoffelhuisies fyngekap

½ rooi soetrissie en ½ groen soetrissie gekap

1 pakkie gesnipperde spek of 250-300g ham

Meng bostaande twee mengsels en voeg sout en peper na smaak by.

Gooi die mengsel in ’n groot pan op die stoof op lae hitte.

Sodra dit begin stol, strooi twee wiele Feta-kaas wat gekrummel is en drie koppies gerasperde Cheddar-kaas oor en wag tot hele mengsel gestol het.

Bedien as ontbyt of met ’n slaai vir ’n ligte ete.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

Me. Sophie Hugo het ’n vierde plek tydens ’n Clover-kompetisie behaal en ’n tweede plek met haar Fritatta-resep wat sy vir ’n Alzu-kompetisie ingeskryf het. Sy is ook lid van die Secunda VLU.
’n Voorbeeld van me. Sophie Hugo se Fritatta waarmee sy ’n tweede plek by die Alzu-kompetisie gewen het.

Related Articles

Back to top button