Dieetkundige vind haar roeping in kliniese werk
Elmarie Mostert wou eers in sportdieetkunde spesialiseer, maar het haar roeping in kliniese werk by ’n plaaslike staatshospitaal gevind.
Me. Elmarie Mostert van Secunda het in gr. 12 besluit om drie jaar se fisiese wetenskap in een jaar te doen sodat sy kon aansoek doen om BsC Dieetkunde te studeer.
“Ek het wiskunde, biologie en rekenkunde as matriekvakke gehad, maar nie wetenskap nie, en ek moes dit hê om vir ’n BsC-graad aansoek te doen.
“My ma was my wiskunde-onderwyser en het my plan ondersteun, so ek het oor naweke gr. 10 en 11 wetenskap ingehaal terwyl ek in die week gr. 12 wetenskapklasse geloop het saam met die res van my jaargroep.”
Dié uitdagende akademiese program het vrugte afgewerp en me. Mostert het keuring gekry om dieetkunde aan die Noord-Wes Universiteit te studeer.
Dit is ’n vier jaar graad en daarna moes sy een jaar se gemeenskapsdiens voltooi.
“Ek was eers op eMalahleni en op Delmas, maar ek het onlangs aansoek gedoen om na ’n plaaslike staatshospitaal oorgeplaas te word waar ek nou as dieetkundige werk.”
Me. Mostert is ’n sportiewe mens, en hoewel die idee van sportdieetkunde haar eers na dié veld toe gelok het, het sy nou haar roeping gevind in kliniese dieetkunde.
“Die veld is só wyd, dat daar werklik iets vir enige iemand is om te doen. Van privaatpraktyk tot spesialisering in sportdieetkunde, tot kliniese werk, produkontwikkeling en navorsing – jy sal nooit verveeld wees nie.”
Sy het ook gekwalifiseer as laktasiekonsultant.
“Dit is ’n borsvoedingspesialis wat daarop fokus om boersvoedende ma’s te help om die meeste uit borsvoeding te kry.”
Hoewel haar werk by die hospitaal alles behels van borsvoedende ma’s tot jong wangevoede kinders en volwassenes met chroniese siektes, geniet me. Mostert dit veral om met prematuurbabas te werk.
“Dit is ongelooflik om met die klein babatjies te werk wat maar 8ml melk per dag moet inneem, en om te sien hoe hulle reageer op die regte voeding. Min dinge maak my so opgewonde soos een van dié prematuurbabas wat 10 of 20 gram opgetel het, dan wéét jy jy maak ’n verskil.”
Me. Mostert veg ook daagliks teen stigmas as dit kom by baba- en kindervoeding en geniet die kliniekwerk waar sy algemene gesondheidsklasse oor voeding aanbied.
“Wat jy op universiteit leer, gee vir jou ’n baie goeie akademiese agtergrond, maar eers as jy met ’n pasiënt voor jou sit wat nie altyd basiese kos kan bekostig nie, besef jy dat jy nou uit die boks moet dink.”
Me. Mostert is ook dankbaar vir die geleentheid wat haar pos haar bied vir verdere studies en ontwikkeling en is tans besig om haar nagraadse diploma in onderwys te voltooi, sodat sy ’n beter begrip het van die jong mense waarmee sy daagliks moet werk.
“Ek werk met kinders wat gediagnoseer is met chroniese siektes wat van jongs af moet leer hoe om reg te eet en as ek nie weet hoe om my kennis oor te dra dat dit gaan insink nie, help dit nie.”
Sy put baie genot uit haar werk en is dankaar vir die geleentheid om werklik ’n verskil te maak.
“As jy sien die liggie gaan aan en die ma kom byvoorbeeld reg met borsvoeding, gee dit vir my baie werksgenot.”
As dieetkundige wat geregistreer is by die Association for Dietitians in South Africa, moet me. Mostert ook sorg dat sy haar Continuing Professional Development-punte per jaar verdien, en sy geniet dit om saam met ander dieetkundiges op hoogte van nuwe ontwikkelinge in die veld te bly.
“Moet net nooit dink jy kan ophou leer nie, elke week is daar ’n nuwe ontwikkeling of artikel of navorsing waarvan jy moet weet.
“Die veld van dieetkunde is nie staties nie en ek geniet dit om daagliks nuwe dinge te leer.”
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



