Editor's choiceLocal newsNews

Drie kinders sterf in ongeluk op Thuthukani-pad

Volgens inligting van die polisie, het die kinders nie toestemming gehad om met die voertuig te ry nie.

Drie kinders tussen die ouderdomme van 15 en 18 is op 8 Augustus dood in ’n ongeluk op die Thuthukani-pad.

Volgens die Charl Cilliers Polisie, is die twee broers, Vusi en Bongani Vilakazi, asook ’n vriend, Sihle Hadebe, in die ongeluk dood.

Volgens inligting van die polisie, het die kinders nie toestemming gehad om met die voertuig te ry nie.

Die Standerton Advertiser kon egter nie met die familie in verbinding tree om bogenoemde te bevestig nie.

Omstanders het die rede vir die ongeluk toegeskryf aan die busse wat blykbaar die afgelope drie weke nie die kinders vir skool oplaai nie.

Die Departement van Onderwys het na bewering dié diens uitgekontrakteer wat plaaslike inwoners die harnas ingejaag het.

Busbestuurders word blykbaar gedreig met die gevolg dat hulle glad nie ry nie. Van die mense wat op die toneel gestop het, het gesê die leerlinge wil skool toe gaan en doen alles in hul vemoë om daar uit te kom.

Party loop, ander ryloop en in dié voorval het drie skoolkinders, sonder enige toesig, met ’n bakkie gery.

Volgens die skoolhoof van Zikhtheleni Secondary School in Thuthukani, is dit ’n tragedie.

Van die onderwysers wat op die toneel was, het hartverskeurend gehuil.

Iemand het laat hoor hulle soek antwoorde van die departement af en ook gesê daar is nie met die ouers oor die probleem gepraat nie.

“Hierdie is ons kinders en nou is hulle dood,” het ’n emosionele omstander gesê.

Volgens mnr. Theuns Botha, bestuurder van ’n Ford-bakkie, was hy op die pad en die volgende oomblik het die Nissan-bakkie voor hom ingery.

Hy en sy passasier, mnr. Gert Bouwer, het ligte beserings opgedoen.

’n Ooggetuie wat naby die toneel gewerk het, mnr. Kobus Baard, het gesê dat hy die klein bakkie sien ry het en dat dit nie by die stopstraat gestop het nie.

Volgens mnr. Baard het die twee voertuie die volgende gebots.

Nog ’n ooggetuie, mnr. Ian Rautenbach, het gesê dat hy van Charl Cilliers se kant op pad na Tutuka gesien het hoe die klein bakkie van die regterkant op die grondpad aankom.

Hy het ook gesê die Nissan-bakkie het nie gestop nie.

Mnr. Rautenbach het ná die ongeluk stilgehou en gekyk of hy hulp kon verleen.

Volgens hom het hy baie brandstof gesien en was skrikkerig dat dit aan die brand sou slaan.

Die betrokke owerhede is laat weet en was vinnig op die toneel.

Die liggaam van die seun wat die voertuig bestuur het, moes met meganiese kake verwyder word.

Mnr. Jasper Zwane, provinsiale woordvoerder van die Departement van Onderwys, het namens die departement meegevoel aan die familie, vriende en skool oorgedra.

Hy het gesê dat sielkundiges na die skool gestuur is vir bystand aan leerders en onderwysers.

Die families sal ook bygestaan word.

Volgens mnr. Zwane is die buskontrak aan die Departement van Openbare Werke en Vervoer toegewys.

’n Opvolgberig sal aandui wat die stand van sake met die kontrak is.

Konst. Godfree Motau van die Charl Cilliers Polisie ondersoek die saak.

 

Lees ook.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button