Sluipslapers se gewoontes gevaarlik vir hulself en ander
Sluipslapers en hawelose mense wat in die groenstroke en oop velde van Secunda en Trichardt woon veroorsaak bekommernis vir die munisipaliteit.
SECUNDA – Verskeie inwoners het hulle misnoë uitgespreek oor sluipslapers en haweloses wat in die groenstroke woon.
Dié mense het geen ander heenkome nie en kies veral om teen die buitemure van huise wat aan die areas grens hulle skuilings op te rig.
Hulle maak ook vuur wat nie net gevaarlik is vir hulleself nie, maar wat gereeld lei tot veldbrande reg langs huise en paaie.
Die rook van dié veldbrande is nie net ’n gevaar vir padverbruikers nie, maar die brande self is soms so naby aan huise dat die brandweer inderhaas moet kom blus om skade aan eiendom te voorkom.
By een spesifieke “kamp” reg langs Nelson Mandelarylaan is daar ook stapels opgehoopte gemors, reste van diere wat blykbaar net daar geslag en gaargemaak is, en in Helen Jospehstraat naby aan die Brandweerstasie is daar skuilings al langs buitemure opgerig.
In Trichardt is daar sluipslapers wat in verskeie oop stukke veld kamp opslaan.
Die munisipaliteit is gekontak vir kommentaar en is besig om ondersoek na die situasie in te stel.
Voorlopig het mnr. Bheki Kubheka, munisipale woordvoerder, bevestig dat die munisipalitiet van die probleem bewus is en van plan is om binnekort met ’n alternatiewe oplossing vir dié mense vorendag te kom.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.





