Local newsNews

Een laaste encore vir Hettie

Die nuus van een van Ermelo se kultuurpioniers, styl-ikoon en geliefde inwoner, Hettie McKay, se dood het opnuut gesprekke ontlok oor die lewe en indruk wat dié merkwaardige vrou tydens haar lewe gemaak het.

Die nuus van een van Ermelo se kultuurpioniers, styl-ikoon en geliefde inwoner, Hettie McKay, se dood het opnuut gesprekke ontlok oor die lewe en indruk wat dié merkwaardige vrou tydens haar lewe gemaak het.

Hettie is Vrydagoggend 18 Augustus, twee dae voor haar 77ste verjaarsdag, ná ‘n lang siekbed oorlede.

Sy is op 20 Augustus 1940 gebore en het haar kinderjare op Torbanite-myn tussen Ermelo en Breyten deurgebring en op Ermelo skoolgegaan waar sy in 1958 aan die Hoërskool Ermelo gematrikuleer het.

Ná skool het sy haar in Kaapstad en Johannesburg as onderwyseres bekwaam.

Nadat sy haar studies voltooi het, het Hettie na die destydse Suidwes-Afrika verhuis waar sy aan die Augustineum in Okahandja klas gegee het.

In Windhoek het sy haar eerste man, Hannes Smith, redakteur en eienaar van die Windhoek Observer, ontmoet.

Ongeveer vier jaar later het sy en haar dogter, Ayn, alleen teruggekeer na Ermelo om ‘n nuwe lewe te begin.
Sy het in 1968 ‘n pos by Hoërskool Ermelo aanvaar waar sy Engels as vak aangebied het. Dit was ook gedurende dié tyd dat sy en haar ou kindervriend en later tweede man, Clive McKay, se paaie weer gekruis het.

Die destydse skoolhoof, mnr. A.B.K. van Zijl, se ideaal was om die Afrikaner-kind bloot te stel aan meer as net sy klein wêreld en om selfvertroue te kweek.

Dié droom is met die hulp van die gemeenskap verwesenlik met die bou van die kunssentrum wat vandag bloot as die ouditorium bekendstaan.

In dié gebou het Hettie se vele talente ‘n unieke bydrae tot mnr. Van Zijl se droom en die ontwikkeling van kinders se talente gelewer met die opvoering van vele verhoogstukke onder haar leiding.

Sommige inwoners sal miskien nog die opvoering van onder andere “‘n Seder val in Waterkloof” onthou, maar wat veral onvergeetbaar is vir diegene wat dit bygewoon het, is die musiekblyspele wat jaarliks op die planke gebring is.

“My Fair Lady”, “Showboat”, “Oklahoma!”, “Annie get your gun”, “Guys and Dolls” is maar enkele van die blyspele wat sy met groot sukses opgevoer het.

Met haar filosofie van “Dis reg of weg” waarmee sy elke produksie hanteer het en haar indrukwekkende kunstalent, is elke detail van die spel tot die dekor en kostuums tot in die fynste beplan en uitgevoer. Baie nagte het sy stoksielalleen in die ouditorium geverf aan die tonele op agtergronddoeke wat sy self ontwerp het.

Elke aand van die weeklange opvoerings was jaarliks uitverkoop.

Gedurende haar tyd as Engels-onderwyser het sy en Clive elke Vrydagaand ‘n ander groepie van haar matrieks na hul huis genooi vir ete, waartydens daar net Engels gepraat is.

In die vroeë ’70’s het Hettie as onderwyser bedank, maar steeds haar werk as regisseur van produksies van hoogstaande gehalte voortgesit.

Sy het in dié tyd skoenwinkels in Ermelo en Frankfort gehad en later haar op raamwerk toegespits.

Hettie was lief vir alles mooi en kleurvol en haar spogtuin was vir haar kosbaar.

Sy sal ook onthou word vir haar stylvolle voorkoms en kon altyd deur ‘n ring getrek word, koffie sou nooit uit ‘n beker gedrink word nie en maaltye is altyd aan tafel met haar beste eetgerei bedien.

Hettie was een van Ermelo se kleurvolle karakters wat op haar stil manier ‘n verskil in mens en dier se lewens gemaak het.

Haar dogter, Ayn, som haar so op: ­­” My mother was poetry in a world that was still learning the alphabet.”

Hettie se nalatenskap is vasgevang in die skool- en koerantargiewe en daar sal vir jare vorentoe nog met deernis gepraat word oor dié dinamiese vrou wat haar stempel in die gemeenskap afgedruk het.

Hettie laat haar dogter, drie kleinkinders en een agterkleinkind na.

‘n Gedenkdiens vir Hettie vind Vrydag om 14:00 in die Metodiste-kerk op die hoek van Burger- en De Jagerstraat plaas.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button