Oom Pompies vir werk as paramedikus vereer
Hy het ’n trofee by Hoërskool Standerton ontvang vir sy onbaatsugtige werk.
Mnr. Pieter van der Westhuizen, oftewel oom Pompies, is onlangs vir sy werk as paramedikus tydens skoolsport vereer.
Hy het ‘n trofee by Hoërskool Standerton ontvang vir die onbaatsugtige werk wat hy meer as 20 jaar doen rondom noodhulp by sportgeleenthede.
Oom Pompies is altyd te siene langs die sportvelde in die omgewing van Standerton, Ermelo, Secunda en Bethal.
Op die vraag waar die naam, Pompies, vandaan kom, was sy antwoord dat die dag toe hy gebore is, ‘n radioprogram met die naam “Next Stop Makouvlei” gehoor is waar die hoofkarakter, Dana Niehaus, se naam Piet Pompies was.
Hy het laggend vertel dat hy blykbaar met sy geboorte vreeslik gehuil en die vroedvrou gesê het dié een se naam is Piet Pompies.

Volgens hom het hy ‘n 180° draai met sy lewe gemaak nadat hy eers ‘n soldaat was en vandag na siek mense omsien en help waar hy kan.
Dit het alles by Eskom se Arnot Kragstasie begin waar hy as ‘n toesighouer gewerk en later na Tutuka Kragstasie oorgeplaas is.
Hy het altyd die noodhulpkompetisies gewen en later in die mediese sentrum beland.
Volgens hom het hy die voorstel gemaak dat die persoon wat die noodhulpklas aanbied, nie dieselfde kwalifikasies as die mense in die klas kon hê nie.
Daarna is hy vir opleiding as Intermediêre Mediese Praktisyn gestuur.



