Bethal-vlieënier sterf in vliegongeluk
Die Burgerlugvaartowerheid sou Maandagoggend, 4 September die ongelukstoneel besoek om die oorsaak van die ongeluk te probeer vasstel.
‘n Voormalige leerder van Hoërskool Hoogenhout, me. Annene le Roux (23), is Sondagmiddag in ‘n vliegongeluk dood.
Haar medevlieënier, mnr. Ben Laas (24), is ook dood.
Hy was van Hartbeespoort.
Na wat verneem word, het die Cessna-vliegtuig waarin hulle gevlieg het, naby Ingwe Lodge, amper bo-op die Magaliesberg neergestort.
Die ongeluk het tussen 11vm en 12nm gebeur.
Na bewering het die eienaar van die plaas gesien daar is ‘n brand en bure gevra om te kom help.
Hulle het gesien dat dit ‘n klein vliegtuig was.
Die polisie en paramedici is na die toneel ontbied. Hulle het twee liggame gevind.
Die vliegtuig het vroeër die oggend vanaf Wonderboom-lughawe opgestyg.
Me. Le Roux is die dogter van mnr. Louis en me. Ansie le Roux van Bethal.
Volgens haar ma wou haar dogter van kleinsaf net vlieg.
Sy is op Bethal gebore en het haar laerskoolloopbaan aan Laerskool Marietjie van Niekerk voltooi en in 2012 aan Hoërskool Hoogenhout gematrikuleer.
Wyle me. Le Roux was ‘n studente-koördineerder van Eagle Air Flight School by die Wonderboom Lughawe in Pretoria.
Burgerlugvaart sou Maandagoggend die ongelukstoneel besoek om met hul ondersoek na die oorsaak van die vliegongeluk te begin.
“Ek hou glad nie van vlieg nie en kan dit nie hanteer nie, maar hoe staan ‘n mens in die pad van jou kind se drome?” het me. Le Roux (snr) Maandagmiddag aan Ridge Times gesê.
“Vlieg was haar passie en Annene het absoluut daarvoor geleef.”
Volgens kenners was albei die oorledenes ervare vlieëniers.
Me. Le Roux (jnr) was besig met haar kommersiële vlieglisensie.
Sy het ook vir ‘n privaat vlieglisensie aan die Loutzavia-vliegskool by Onderstepoort in Pretoria studeer.
Sy het akademies goed gevaar op skool en kon nie wag om klaar te maak sodat sy kon begin vlieg nie.
Die gesin beplan haar roudiens wat uit die Gereformeerde Kerk op Bethal sal plaasvind.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



