Luca red ander hond se lewe deur bloed te skenk
Daar is ook bloedgroepe by honde soos by mense, maar as dit die eerste keer is dat ’n hond bloed ontvang, kan hy enige bloed kry.
Die sesjarige Luca wat by die DBV sy heenkome gevind het, het verlede week die lewe van die eenjarige Lulu gered nadat hy bloed vir haar geskenk het.
Luca is ’n nuwe inwoner van die DBV nadat sy eienaars verhuis het en hom nie kon saamneem nie.
Lulu is ’n Coonhound en het bosluiskoors opgedoen.
Volgens me. Wilma Maré, suster, was Lulu se rooibloedtelling baie laag en sy was baie bleek.
“Indien ’n hond bleek is, kan ’n mens nog ’n bloedoortapping gee, maar wanneer hulle geel is, kan hulle nie bloed kry nie.”
Volgens haar is daar ook bloedgroepe by honde soos by mense, maar as dit die eerste keer is dat ’n hond bloed ontvang, kan hy enige bloed kry.
“’n Mens moet hulle net goed dophou vir enige reaksie.”
Hoewel Lulu nog pap is, eet sy goed en gaan dit beter, het me. Maré gesê.
Dit is die eerste keer sedert me. Maré by dr. Hardus Pieters se praktyk aangesluit het, dat sy by só iets betrokke is.
Dr. Pieters het in die verlede ook al vir honde bloedoortappings gegee, en het gewoonlik sy eie honde gebruik, maar hulle is nou te oud.
Veeartse skakel gewoonlik die DBVs om te hoor of daar honde is wat kan skenk.
Honde wat as skenkers gebruik word, se liggaamsmassa moet meer as 30kg wees en hulle mag nie ouer as sewe jaar wees nie.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.


Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



