Local newsNews

Een van Bethal se bekendste inwoners, Faan van der Spuy sterf aan hartaanval

Mnr Van der Spuy was volgens sy vrou, Rina, die laaste ruk ongesteld en is die Vrydag eers in die Mediclinic Highveld op Trichardt opgeneem.

Een van Bethal se bekendste inwoners, mnr. Faan van der Spuy (75), is verlede Maandagmiddag in die Kloofhospitaal in Pretoria aan ’n hartaanval dood.

Mnr Van der Spuy was volgens sy vrou, Rina, die laaste ruk ongesteld en is die Vrydag eers in die Mediclinic Highveld op Trichardt opgeneem.

Hy is dieselfde aand teen middernag na Kloofhospitaal oorgeplaas.

Daar is bevind dat hy inflammasie het, maar hy was te swak en dokters kon nie opereer om te bepaal waar die inflammasie was nie.

Volgens me. Van der Spuy het haar man vir jare hart- en longprobleme gehad.

Mnr. Van der Spuy was ’n sportman deur en deur.

Nie net het hy rugby gespeel nie, maar ook geboks, gestoei, jukskei gespeel, gholf gespeel, atletiek gedoen en ook pluimbal gespeel.

Hy het onder andere teen Jan Wilkens gestoei en het saam met twee Springbokke, Piet Uys en Mof Myburg, vir polisie rugby gespeel.

Mnr. Van der Spuy het op Bethal grootgeword en ook hier gematrikuleer.

Na skool is hy polisie toe waar hy vir twee jaar gewerk het.

Hy het daarna na Bethal teruggekeer en by die destydse Bethal Meule gewerk, waarna hy hom by OTK aangesluit het.

Hy was die hoof van krediteure by die landboumaatskappy.

Sy vriende het van hom gepraat as ’n man met ’n groot hart, ’n steunpilaar en raadgewer, en ’n groot vertroueling.

Me. Van der Spuy het haar man beskryf as kwaai en streng, maar baie liefdevol en dat hy ook ’n groot grapjas was.

Volgens haar was hy baie lief vir sy kinders en het hy mense graag gehelp.

Mnr. Van der Spuy laat sy vrou, sy kinders Johan, Karin en Henda, asook ses kleinkinders na.

Die roudiens was Saterdag vanuit die AC Kerk Vorentoegemeente op Bethal onder leiding van dr. Henk Grobler.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

Mnr. Faan van der Spuy (75) is verlede Maandagmiddag aan ’n hartaanval dood.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button