Adj.-off. Oosie Oosthuizen vang graag slange
Adj.-off. Oosie Oosthuizen (44) se liefde vir en belangstelling in slange het sowat vyf jaar gelede begin toe sy saam met die destydse motorfietseenheid ’n kursus oor slange bygewoon het.

Dit het oor al die slange wat op Secunda en omliggende gebiede voorkom gehandel en sluit die rinkhals en pofadder in.
Sy het op Secunda grootgeword en aan Hoërskool Evander gematrikuleer en na skool vir ses maande by die Polisie Kollege in Pretoria opleiding gekry.
Daarna is sy eers by die speurtak op Secunda en later by die speurtak op Evander geplaas.
Sy het daarna by die honde-eenheid op Secunda gewerk en toe skofte by Evander Polisiestasie.
Adj.-off Oosthuizen het ook in die sigbare polisiëringseenheid gewerk en by die blitspatrollie voordat sy as sektorbevelvoerder aangestel is.
Sy het al verskeie pryse ingeryg, soos die AfriForum se Vrou van die Jaartoekenning en die Polisievrou van die Jaar in haar gebied.
Sy is verlede jaar aangewys as die derde beste Polisievrou van die Jaar in Mpumalanga.
Die laagtepunt van haar loopbaan was toe haar kollega, Jan Sonnekus, in 1999 tydens ’n rooftog by Shoprite op Secunda doodgeskiet is.
Die polisie en die verdagte het op mekaar geskiet en drie verdagtes is ook in die voorval doodgeskiet.
Adj.-off. Oosthuizen geniet dit om met die gemeenskap te werk en bied gereeld praatjies oor dwelms, veiligheid en slange by skole en ander geleenthede aan.
Sy het verlede jaar haar tweede kursus oor slange by die South African Snake Institute gedoen.
Dit was ’n meer gevorderde kursus as die eerste een en hulle het van nog meer giftige slange geleer en hoe om hulle te hanteer.
Adj.-off. Oosthuizen beplan om in Desember nog ’n kursus te doen waar sy onder andere van die mamba en hoe om hulle te hanteer, gaan leer.
Sy vang sowat vyf slange ‘n week in die somer.
In die winter is dit stiller.
Sy en mnr. Shayne van der Heever van Langamed Suid Ambulansdienste wat ook sy kursus in die hantering van slange voltooi het en haar gereeld help, vra net donasies om die slange te verwyder.
“Die donasies help ons om vir die kursusse en brandstof te betaal,” het adj.-off. Oosthuizen gesê.
As jy haar wil ondersteun om haar volgende kursus te doen, ’n bydrae wil maak of haar benodig om ’n slang te vang, skakel haar by 076 051 0710.





