DA-raadslid se stokperdjie is om honde op te pas
Sy het die stuk grond waar die hondehokke was, later verkoop en afgeskaal, maar mense het haar toe genader om hul honde by hul huise te gaan skeer en te versorg.
Me. Mariaan Chamberlain werk graag met diere en weet net hoe om honde te skeer.
Sy het eers as onderwyser gewerk voordat sy ’n gaping in die mark gesien het om troeteldiere op te pas.
Me. Chamberlain het 35 jaar gelede ’n onderneming begin waar eienaars hul troeteldiere kon laat tuisgaan terwyl hulle met vakansie is.
“Dit was harde werk en ek moes naweke en vakansies ook werk, want dan was dit ons besigste tyd,” het sy gesê.
Me. Chamberlain het haar onderneming uitgebrei toe sy vier jaar later ook begin het om die diere te bad en te skeer.
Sy het die stuk grond waar die hondehokke was, later verkoop en afgeskaal, maar mense het haar toe genader om hul honde by hul huise te gaan skeer en te versorg.
“Dit is beter, want die honde is baie rustiger omdat hulle in hul eie omgewing is.
“Nou is dit vir my ’n stokperdjie,” het me. Chamberlain, wat ook ’n DA-raadslid is, gesê.
Sy is verlede jaar as DA-raadslid verkies en geniet die politiek.
Haar loopbaan in die politiek het begin toe sy op me. Mary Taylor, wat ’n paar jaar gelede dood is en ook ’n DA-raadslid was, se wykskomitee gedien het.
In haar vrye tyd geniet sy dit om klere te maak, tuinwerk te doen en te verf.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



