Bethal-dominee vergelyk die mens se lewe met ’n potlood
VLU Bethal-tak het afsluiting gehou en meer van die verhaal van ’n potlood geleer.
Ds. Mari Manders het tydens Bethal VLU-tak se jaarlikse afsluiting vroue oor die doel van die potlood toegespreek.
Die doel van die potlood kan gebaseer word op die lewe van die mens.
“’n Potlood kan wonderlike dinge doen, boeke is geskryf, gedigte is geskryf, sketse is gemaak en nog vele meer, net deurdat iemand ’n potlood in sy hand geneem het.
“Só wil God ons ook elke dag in Sy Hand vashou, want Hy het groot planne vir ons lewe en Hy weet wat is die beste vir ons.
“Die mens kan dan beter diensbaar wees in die lewe.”
Ds. Manders het gesê die potlood moet soms skerp gemaak word.
“Dit is nie lekker nie, maar daar is ook ’n rede daarvoor. Dit gebeur ook in die mens se lewe.
“Ons kry soms baie probleme en verstaan nie waarom nie, maar God gee aan ons ’n belofte dat Hy oral saam met ons sal wees, maak nie saak waardeur ons gaan nie.
“Die voetspore-gedig dui daarop.”
Ds. Manders het gesê die potlood kan ook foute maak, maar dit maak nie saak nie, dit kan weer uitgevee word.
“Ons foute kan ook uitgevee word, want almal op die aarde maak foute.
“Die belangrikste wat ons moet onthou, is dit wat binne ons is.
“Die potlood is niks werd sonder die lood wat binne dit is nie.
“Ons as mens is ook niks werd sonder God wat in ons is nie.”
Vir ’n potlood maak dit nie saak hoe hy lyk nie: soms is dit vol kindertandmerke, soms is die verf af, maar solank die lood binne is, kan sy doel nog bereik word.
“Solank ons nog ons doel kan bereik en doen wat die Here wil hê ons moet doen, is ons nog bruikbaar in Sy oë.
“Ons moet weet dat ons voetspore moet agterlaat in die wêreld om mense te lei.
“Dit is hoe mense in die wêreld ingestuur word om ’n verskil te maak.”
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



