CrimeNews

Egpaar ongedeerd ná plaasaanval tussen Bethal en Hendrina

"Dis die Here wat vir my man die krag gegee het om aan die tuinhekkie te bly vasklou sodat hulle hom nie in die huis kon dwing nie."

Mnr. Jan (74) en me. Marie Jordaan (72) is ongedeerd na ‘n aanval op hul plaas tussen Bethal en Hendrina vanoggend, 24 Februarie omstreeks 8vm.

Volgens mnr. Hennie Bekker van Bethal Landelike Veiligheid en AfriForum, het drie mans mnr. Jordaan buite sy huis genader en gesê hulle wil iets koop van sy winkel.

Hy het gesê die winkel is toe, waarop hulle gesê het hulle wil met sy vrou praat.

Mnr. Jordaan het haar geroep en sy het in Zoeloe met hulle gepraat en gesê die winkel is toe op Saterdae en Sondae.

“Die volgende oomblik het hulle ons gegryp,” het me. Jordaan vertel.

“Een het my vasgehou en twee my man.

“Een het ‘n pistool gehad, een ‘n rewolwer en die derde een ‘n mes.

“Hulle het die mes teen my man se bors gehou en hy het verskriklik begin skree.

“Hulle het hom in die huis in probeer dwing, maar hy het aan die tuinhekkie vasgehou.

“Ek het vir hom geskree: ‘Staan stil, hulle gaan jou doodmaak.’

“Die een wat my vasgehou het, het in Zoeloe vir my gesê ek moet stilbly anders maak hulle my dood.”

Skaapwagters wat 50m van die egpaar af woon, het mnr. Jordaan se geskree gehoor en uit hul huis gekom.

“Ek het vir hulle geskree: ‘Skiet hulle! Skiet hulle! Skiet hulle.’

“Toe ek die derde keer skree, het hulle weggehardloop.

“Dis die Here wat vir my man die krag gegee het om aan die tuinhekkie te bly vasklou sodat hulle hom nie in die huis kon dwing nie.

“Die hele gebeurtenis was binne drie minute verby en ons is ongedeerd.”

‘n Silwer motor het die aanvallers by die groot pad ingewag waarmee hulle gevlug het.

Bethal en Hendrina Polisie was binne 15 minute op die toneel en BKB se kamera’s het ‘n foto van die motor op die hoofpad geneem.

“Ons sal nou ons veiligheidsmaatreëls opskerp,” het me. Jordaan gesê.

“Ons wil almal wat ons bygestaan het en ondersteun bedank.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button