CrimeNews

Jaco Jordaan wat van meer as R100 miljoen se beleggingsbedrog verdink word, word borgtog geweier.

Heelwat mense vanuit Kriel is bejaarde pensioentrekkers of mense wat ongeskik vir werk verklaar is en hulle hele pensioene by mnr. Jordaan belê het.

Mnr. Jaco Jordaan, die sakeman van Heidelberg, is steeds agter tralies ná sy aansoek om borgtog op Vrydag, 2 Maart van die hand gewys is.

Hy word daarvan verdink dat hy meer as 100 mense vanuit Kriel en Secunda uit hul spaargeld bedrieg het in ‘n multi-miljoen Rand beleggingskema wat die polisie nou glo moontlik ‘n grootskaalse Ponzi-stelsel mag wees.

[UPDATE] Secunda magistrate denies bail for accused in R100 million fraud case

Volgens brig. Leonard Hlathi, Mpumalanga se polisiewoordvoerder, word die geld wat beleggers in die skema betaal het, tans op meer a R100 miljoen geraam. Hy meen daar mag moontlik meer mense in ander dele van die land wees wat ook by mnr. Jordaan se onderneming, Stocktraders SA, belê het.

Mnr. Jaco Jordaan is in gesprek met sy regsverteenwoordiger, adv. Jacques Pienaar.

Speurders van Secunda en Kriel het mnr. Jordaan op 26 Februarie by Germiston-polisiekantore in hegtenis geneem waar hy probeer het om sy skootrekenaar en persoonlike eiendom terug te kry.

Dit was in die polisie se kluis terwyl mnr. Jordaan tyd in die hul polisieselle deurgebring het weens ‘n ander soortgelyke dossier wat reeds in 2012 in Gauteng teen hom geopen is. Die polisie se handelmisdaadeenheid sal binnekort die ondersoek oorneem.

Die hof se openbare galery was met mnr. Jordaan se eerste hofverskyning op 27 Februarie op Secunda, asook tydens sy borgtogaansoek, volgepak deur klaers van Kriel en Secunda.

‘n Man van Middelburg wat ook in Stocktraders SA belê, was ook Vrydag in die hof.

Pensioenarisse

Heelwat mense vanuit Kriel is bejaarde pensioentrekkers of mense wat ongeskik vir werk verklaar is en hul hele pensioen by mnr. Jordaan belê het met die verwagting om groot bedrae rente per maand te ontvang. Sommiges het inderdaad miljoene belê. Dit het glo vir jare goed gegaan totdat die maandelikse uitbetalings in September opgedroog het.

‘n Belegger wat lont geruik het, het by sy prokureur, mnr. Lourens Grundlingh, gaan kla.

Mnr. Jaco Jordaan (sakeman van Heidelberg wat van beleggingsbedrog verdink word) praat met sy regsverteenwoordiger, adv. Jacques Pienaar. In die agtergrond is een van die klaers, me. Sus Taljaard, in haar rolstoel.

Mnr. Grundlingh is nou in gesprek met die vermeende slagoffers om hul geld terug te kry.

Mnr. Jordaan het in ‘n verklaring wat Vrydag, 2 Maart deur adv. Jacques Pienaar aan die hof voorgelees is, om borgtog gevra. Hy het aangevoer dat hy aan hipertensie en slaapapnee ly en nie die regte dieet in aanhouding kan volg nie.

Hy het ook verklaar dat sy verskeie sake-ondernemings, waaronder Stocktraders SA, drie eiendomsagentskappe en ‘n koffiewinkel, groot skade sal ly as hy in aanhouding sou bly.

Aansoek om borgtog

Die staat het egter mnr. Jordaan se aansoek om borgtog teengestaan.

Daar is aangevoer dat hy moontlike bewysstukke kan vernietig en die geld wat tans “weg” is, kan verskuif.

Hy is ook tydens sy aanhouding in die Secunda-polisieselle met ‘n selfoon betrap.

Die staat het gesê sy vrylating mag tot openbare onrus lei.

Dit het ook in die hof aan die lig gekom dat mnr. Jordaan glo ‘n boot iewers in die Wes-Kaap het waarmee hy kan vlug sou hy op borgtog uitgelaat word.

Die hof was tot laat Vrydagmiddag in sitting voor landdros Faith Kekana haar uitspraak gegee het. Mnr. Jordaan verskyn weer op 13 April in die hof.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button