Local newsNews

Ciljee Brits herstel goed nadat hy gepik was deur ‘n pofadder

Ciljee Brits sal moontlik Woensdag of Donderdag ontslaan word vanuit Sunninghill Hospitaal in Johannesburg.

TRICHARDT – Ciljee Brits (5) is Woensdag, 28 Maart deur ’n pofadder gepik op die gesin se plaas buite Piet Retief.

Ciljee Brits wat Woensdag, 28 Maart op ’n plaas buite Piet Retief deur ’n pofadder gepik is.

Volgens sy ma, me. Tania Brits, het sy en haar man, Ruan, op die stoep gesit en kyk hoe Ciljee buite speel.

“Hy het die hondehok langs die motorhuis, met ’n stok gekap en die slang het uit sy gat gekom en hom gepik,” het me. Brits vertel.

“Ciljee het geskree en gesê ’n slang het hom gebyt.

“Ek het hom na binne geneem en sy voet afgespoel terwyl my man na die slang gaan kyk het.

“Hy het gesien dit was ’n pofadder en hom doodgemaak.

“Ons weet die slange is na die winter baie aktief en dan is ons gewoonlik ekstra versigtig.

“Dit was die eerste keer dat so iets met ons gebeur het en dit was vir baie traumaties.”

Volgens me. Brits kry die gesin jaarliks tussen vier en sewe slange op die plaas wat nagadders en pofadders insluit.

“Slange hou van vogtige lang gras en langs die motorhuis is bloekombome en dit het gereën, so ek vermoed dit is waarom die pofadder daar was.”

Hulle het Ciljee na die Life Hospitaal op Piet Retief gehaas, maar die dokters kon nie daar vir hom teengif gee nie en hy is na Mediclinic Highveld op Trichardt oorgeplaas.

Hy is op sy voet gepik, maar die gif het versprei en sy hele been het opgeswel.

Hy het teengif by die Mediclinic Highveld gekry, maar sy been het die volgende oggend erger gelyk en hy het infeksie gekry.

Ciljee is na die Sunninghill Hospitaal in Johannesburg oorgeplaas omdat die dokters aanbeveel het dat hy ’n noodoperasie moes ondergaan.

Ciljee Brits in Sunninghill Hospitaal in Johannesburg nadat hy Woensdag, 28 Maart op ’n plaas buite Piet Retief deur ’n slang gepik is.

Die dokter by Sunninghill Hospitaal het egter gesê hy wil eers wag voordat hy opereer en teen die volgende oggend het Ciljee se been weer beter gelyk en die swelling het gesak.

Ciljee Brits sou eers ’n noodoperasie op sy voet ondergaan het, maar dokters het later besluit dit is nie meer nodig nie.

“God het vir Ciljee aangeraak en sy been is nou al baie beter,” het me. Brits Dinsdagoggend gesê.

Die dokter het Maandag gesê dat Ciljee moontlik Woensdag of Donderdag ontslaan sal word.

Vriende en familielede van die gesin het op Facebook boodskappe gedeel om geld in te samel vir ’n operasie, dit is egter nou nie meer nodig nie.

Die gesin gaan wel nog geld nodig hê vir Ciljee se hospitaalrekeninge en fisioterapie en die behandeling van Ciljee se wonde omdat die gesin nie ’n mediese fonds het nie.

Mnr. Brits het sy eie onderneming, ’n saagmeule op Piet Retief, gehad, maar moes dit verlede jaar toemaak omdat dit nie goed gegaan het met die onderneming nie.

Die gesin is al sewe maande sonder ’n mediese fonds.

Also read: Tshegofatso (9) is taking sewing classes at the Gert Sibande College

Mnr. Brits doen tans herstelwerk aan masjienerie op plase, maar beplan om binnekort weer sy saagmeule oop te maak omdat hy ’n groot kontrak kan kry.

Met die geld wat die gesin sedert verlede Woensdag ingesamel het, kon hulle die ambulans betaal wat Ciljee vanaf Trichardt na Johannesburg vervoer het.

“Ons sal eers hoor hoeveel ons die hospitaal skuld wanneer Ciljee ontslaan word,” het me. Brits gesê.

Sy is ’n onderwyser vir gr. 4-7-leerders.

As jy die gesin wil help, skakel me. Brits by 082 416 7233.

Ciljee Brits se wonde word gereeld geskraap en skoongemaak en ’n operasie is nou nie meer nodig nie.
Ciljee Brits se voet was teen Dinsdagoggend al baie beter nadat ‘n pofadder hom gepik het.
Ciljee Brits se voet nadat ‘n pofadder hom Woensdag, 28 Maart gepik het.
Ciljee Brits se voet en been het tot tussen sy bene opgeswel nadat ’n pofadder hom gepik het.
Ciljee Brits se voet Dinsdagoggend nadat dokters gereeld die dooie weefsel afgeskraap en die wonde skoongemaak het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button