Die riool agter die moskee is ’n stinkstorie en die verskonings wat daarmee gepaardgaan, dra self ook ’n onaangename reuk.
Die Standerton Advertiser het op 5 April en weer op 30 April berig oor die riool wat agter die moskee versamel, onder die Meyerville-brug deurvloei en in die Vaalrivier inloop.
Intussen het die Lekwa Munisipaliteit skouers opgetrek en die probleem aan vandalisme by die pompstasie in Mullerstraat toegeskryf.
Op twee geleenthede is daar na me. Thobeka Mtshiselwa, Lekwa kommunikasiebestuurder uitgereik, hoewel antwoorde op vrae vaag was.
Sy kon bevestig dat daar probleme by die pompstasie was, maar het ook aangedui dat dit sedert munisipale ingryping opgelos is.
Hoewel dit dalk die geval by die pompstasie mag wees, is dit nie die geval agter die moskee waar geen teken van herstel opgemerk kan word nie, inteendeel dié gebied lyk nog erger as voorheen.
Alvorens instandhouding nie gedoen word by die verstopte mangat nie, blyk dit of riool steeds die Vaalrivier sal besoedel.
E-posse wat aan me. Mtshiselwa deurgestuur word, word selektief beantwoord.
Daar is geen aanduiding in die laaste twee e-posse wanneer die ‘afgehandelde’-herstelproses weer hervat sal word nie.
Mnr. James Masango, DA-woordvoerder oor samewerkende regering, het verlede week ’n persverklaring uitgereik oor die ANC wat die mosie om Lekwa se rioolkrisis aan te spreek, verwerp het.
Die Standerton Advertiser het weer op 10 Mei vrae aan me. Mtshiselwa deurgestuur, sy het nie daarop reageer nie.





