Local newsNews

Ondersteun behoeftige gesinne deur kos aan Rata op Secunda te skenk

Maatskaplike werker moes honger mense met leë hande wegwys.

SECUNDA – Rata, die nie-winsgewende welsynsorganisasie, se koskaste is tans leeg en benodig dringend kos om die gesinne wat hulle help, verder te ondersteun.

Dit het me. Sonja Smit, maatskaplike werker by Rata, se hart gebreek toe sy onlangs ’n gesin met leë hande moes wegwys.

Me. Smit vertel van dié dag: “Dit was ’n yskoue dag met ligte reën. Ek was besig om hofverslae te skryf toe die voordeurklokkie lui. Ek het die knoppie vir die deur om oop te gaan, gedruk.

“Voordat ek kon omdraai, het ’n klein seuntjie my omhels en gesê: ‘Tannie, tannie is mos die tannie wat ons gaan help, tannie ons het niks om te eet nie.’

“Tydens die onderhoud met die ma en pa, het ek dieselfde storie wat soveel van ons kliënte vertel, gehoor.

“Pappa werk, maar die salaris is net-net genoeg om die huur te betaal. Daar is nie genoeg geld oor vir kos, klere, water en elektrisiteit nie.

“Dit is die realiteit van baie van ons mense. Hoewel die pa of ma, of soms albei werk, kry ons mense eenvoudig nie genoeg om kos op die tafel te sit nie. Werk is skaars en mense verloor daagliks hul werk en die kinders ly dan honger.

“Ons as maatskaplike werkers sien dit daagliks. Armoede neem toe, so ook hongersnood. Geen maatskaplike werker wil ’n kind of persoon in nood wegwys nie.

“Dit is bitter hartseer as ons nie mense kan help nie.”

Volgens me. Smit is baie van hul behoeftige gesinne pensionarisse wat afhanklink is van die maandelikse staats-pension. Dit is sowat R1 600 per maand.

“Dit is nie genoeg geld om te oorleef nie. Hulle kan skaars hul huur betaal, wat nog te sê van kos koop.

“Dikwels het hul kinders geëmmigreer of weggetrek en hulle agtergelaat.

“Ons wil graag vir hulle ook kos op die tafel sit.”

Rata doen eers ’n volledige ondersoek as mense by hulle aanklop vir hulp. “Ons maak seker daar is nie dwelm- of drankmisbruik nie en doen huisbesoeke om die addresse te bevestig.

“Ons stap ’n pad saam met die mense en help hulle om aan langtermynoplossings te dink.

“Ons wil egter dringend die onmiddellike honger aanspreek deur ’n kospakkie te gee.”

Dié kospakkies bevat blikkieskos soos groente, vrugte en vleis, mieliemeel, rys, pasta, boksies soppoeier, sout en suiker.

Toiletware is ook ’n behoefte en vir behoeftiges dikwels net ’n luuksheid.

Rata benodig seep, tandepasta en sjampoe om hul behoeftige gesinne te help.

Me. Smit het die gemeenskap aangemoedig om hul hande en harte oop te maak en van die bogenoemde kos of toiletware aan Rata te skenk.

Vir meer inligting, skakel Rata by 017 631 1631.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button