Hond herenig met haar jong eienaar nadat dit gesteel is
Hoëveldrif DBV soek steeds na Franse dashond (Basett).

SECUNDA – Viniik van der Merwe (11), ’n leerder van Laerskool Secunda, was oorstelp van vreugde toe sy Maandagmiddag, 21 Mei haar hond, Lucy, ’n Jack Russelkruising, weer teruggevind het.
Lucy is een van twee honde wat StratconRisk en die Hoëveldrif DBV vermoed die oggend gesteel is.
Die ander hond is ’n Franse dashond (Basset) en is steeds soek.
Lucy is vermoedelik vanuit ’n erf in Pannevisstraat gesteel.
Volgens Viniik se ma, me. Ninke de Lange, was sy Maandagoggend tuis en besig in die huis en het Lucy om 10vm buite gesien.
“Ek het op Zello iets oor honde wat by die taxi-staanplek is, gehoor maar het nie gedink dit is ons hond nie,” het sy vertel.
Sy het die middag haar drie kinders by die skool gaan haal en met hul terugkeer agtergekom dat Lucy weg is.
“Dit was ’n tranedal en ek het toe geen foto’s van Lucy gehad nie, net ’n video wat ek die naweek geneem het van Viniik waar sy met Lucy dans.
“Ek het foto’s van die video gemaak en dit op Facebook geplaas.
“Iemand het my geskakel en laat weet hulle het Lucy by die taxi-staanplek gekry en sy is by die DBV.”
Me. De Lange het Lucy gaan haal en die kinders was verheug om hul viervoetvriend weer by die huis te hê.
Hulle het Lucy vir Viniik verlede jaar by die Bethal DBV aangeneem.
Volgens me. Jenneth Geel, senior inspekteur van die Hoëveldrif DBV, het twee karwagte wat by die Sjinese winkel langs die taxi-staanplek motors oppas, lede van StratconRisk geskakel en gesê daar is twee honde by die taxi-staanplek en iemand probeer om hulle te verkoop.
Lede van StratconRisk het hulle na die taxi-staanplek gehaas waar hulle vir Lucy gekry het.
’n Weldoener van die publiek het Lucy vir R200 gekoop en die span van die DBV was ook vinnig op die toneel en het vir Lucy ingeneem.
Die Franse dashond was nêrens te sien nie en me. Geel het die publiek gemaan om die DBV te skakel as enige iemand dié hond gewaar.
Skakel die DBV by 017 632 2654.
Mnr. Garth Calitz, een van die stigterslede van Sektor 1 Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het sowat twee maande gelede ’n Yorkshireterriër by ’n jong man gekoop.
Dié man het glo by ’n troeteldierwinkel op die dorp aangeklop om te hoor of hulle die Yorkie wou koop. Me. Lynelle Truter, bestuurder, het mnr. Calitz genader vir hulp.
Nadat hy die hond vir R150 gekoop het en ’n foto op die WhatsApp groep Verlore Diere Secunda geplaas, is die eienaar van die hond binne twee ure opgespoor.
Volgens die eienaar het die Yorkie ’n week vantevore weggeraak.
“Ek het net die hondjie gekoop om hom veilig te hou, want hy was so maer en uitgeteer en ek wou hom nie nog langer saam met daardie jong man los nie,” het mnr. Calitz gesê.
“Ons het hom veearts toe geneem. Hy het verkoue gehad omdat hy vermoedelik buite moes slaap.”
Mnr. Calitz vermoed dit is ’n nuwe tendens onder kriminele om honde uit erwe te steel en hulle dan te probeer verkoop.
Hy het die publiek gemaan om seker te maak hul honde is veilig en binne hul erwe.
Me. Truter het gesê ’n jong man het ook drie weke gelede met twee Jack Russels rondgeloop en by die troeteldierwinkel aangeklop en die honde aan hulle probeer verkoop.
“Ek het hom weggewys en vir hom gesê ek koop nie honde nie,” het me. Truter gesê.
“Die eienaar van die Jack Russels het later geskakel en gevra of daar iemand was wat twee honde probeer verkoop het. Ek het toe ongelukkig die man reeds weggewys en kon die eienaar nie help nie.”
Me. Truter het ook vertel van ’n voorval waartydens die eienaars ’n beloning van R3 000 aangebied het as iemand hul Skotse terriërhond kry, waarna ’n man opgedaag het met die hond en die beloning geëis het.
“Dit lyk vir my of diewe die honde steel en dan ’n week hou om te kyk of daar ’n beloning aangebied word of om die honde te probeer verkoop.”



