Bethaller leef steeds haar passie vir akrobatiese danse uit
Kleindogters dans nou ook.
BETHAL – Me. Lorraine de Vos is ’n kenner op die gebied van akrobatiese danse en gee sedert 1985 klas in dié sport en uitvoerende kunsvorm.
Sy het op Bethal grootgeword en was een van twee kinders en het gesê sy het wonderlike ouers gehad.
Toe me. De Vos op skool was, was daar nie geleenthede om te leer dans nie en sy het eers na skool in akrobatiese danse begin belangstel.
Sy het ook ’n kursus by die Matty Reid Modelskool in Pretoria gedoen en dit baie geniet, hoewel sy geweet het sy nooit ’n loopbaan uit modelwerk wou maak nie.
“Dit was net vir die lekker,” het me. De Vos, wat al vir verskeie winkels modelwerk gedoen het, vertel.
Akrobatiese danse het later haar voltydse beroep geword nadat sy haar eksamens in dié rigting afgelê en begin klas gee het.
Sy het ook moderne danse gedoen as jong volwassene.
“Akrobatiese danse was nie alombekend nie, maar dit het in 1994 ’n hupstoot gekry en het niks met die politiek te doen gehad nie.”
Die Akrobatiese Federasie van Suid-Afrika is later gestig en dié sport het groter geword en dit was toe vir dansers moontlik om provinsiale kleure in akrobatiese danse te kry.
“Ek het baie by Ellie Nasser, stigter van die federasie, geleer.”
Me. De Vos het na skool eers na Komati-kragstasie en later na Kriel verhuis.
Lees ook: Loschalí Dansskool binnekort op KykNET te sien
Sy het in albei klas gegee in akrobatiese danse en in 1989 toe sy en haar man teruggetrek het na Bethal, haar eie dansateljee oopgemaak.
Sy het op ’n stadium op Secunda, Bethal, Middelburg, eMalahleni (Witbank), Hendrina, Kriel en Ermelo klas gegee en saans eers na 8nm tuis gekom.
“Daar was ’n groot tekort aan afrigters in die Hoëveld.”
Een van die hoogtepunte in me. De Vos se dansloopbaan is toe sy in 2012 haar eie kunswedstryd begin het.
“Ons moes altyd stad toe ry sodat my studente aan kunswedstryde kon deelneem, toe besluit ek om self een op die platteland te begin.”
Dié kunswedstryd het soveel aftrek gekry dat akrobatiese dansers nou vanaf Gauteng kom om aan die wedstryd wat gewoonlik op Secunda, Bethal of Middelburg gehou word, deel te neem.
Dié kunswedstryd staan bekend as die Loschali-kunswedstryd en die naam is ’n kombinasie van me. De Vos en haar twee dogters, Chanrai en Elisia, se name.
Haar twee dogters het van kleins af gedans en een van hulle gee ook voltyds klas op Middelburg, terwyl die ander een in Bloemfontein woon.
Me. De Vos is in 2016 as eksaminator vir akrobatiese danse aangestel en geniet dit om op ander dorpe te gaan beoordeel.
Daar is tans net 17 eksaminators in Suid-Afrika.
Sy is betrokke by die beoordeling van al die streke, asook die inter-provinsiale kampioenskap.
Me. De Vos het twee seuns, twee dogters en sewe kleinkinders en ’n agtste een is op pad wat later vanjaar gebore word.
Sy is lief vir diere en haar Yorkshireterriër, Peanut, is soos haar skaduwee en gaan oral saam met haar, selfs as sy dansklasse op Secunda aanbied.
In haar vrye tyd doen me. De Vos graag naaldwerk of tuinwerk of bestee tyd in die kombuis.
Hulle was al vier keer in Kanada toe een van haar dogters en haar gesin daar gewoon het en hulle het al na verskeie plekke in Suid-Afrika en Namibië, Botswana en Zimbabwe getoer.
Sy hou daarvan om haar eie kombinasies in die kombuis uit te toets vir gebakte geregte en sy en haar man reis graag.





