Local newsNews

Wildfotograaf Röper Botes se werk kan nou op sosiale media gevolg word

Hy skrik soms snags wakker en tob oor ’n fotogeleentheid wat hy dalk gemis het.

SECUNDA – Mnr. Röper Botes brand om sy nuwe Nikon 850-kamera te gaan uittoets.

Hy het pas dié kamera aangeskaf om by sy kameraversameling te voeg waarmee hy graag die wildtuin invaar om sy stokperdjie uit te leef.

Mnr. Botes, ’n kliënteverhoudings-bestuurder by Honeywell, is ’n selfgeleerde wildfotograaf wat nou ook sy eie Facebook-fotografieblad en Instagramrekening het.

Die fotografie het sowat vyf jaar gelede werklik posgevat.

“Ek het besluit ek het ’n stokperdjie nodig behalwe gholf en het agtergekom hoe baie ek fotografie geniet. Ek en my vrou, Wilma, het begin om meer gereeld die Kruger Nasionale Park te besoek. Ons probeer nou ten minste een keer elke drie maande daar uitkom.”

In die begin het mnr. Botes honderde foto’s geneem, maar dit net vir homself gehou. Toe sy dogter, Ruchel, self ’n ywerige fotograaf, dit wel gesien het, het sy hom aangemoedig om sy gunsteling foto’s in koffietafelbundels saam te stel.

Mnr. Botes gebruik graag die sagteware Lightroom.

“Ek het besef dat die kuns van fotografie ook die grafiese verwerking van foto’s insluit.” Hy betree nou ook sy kunstige sy met dié medium.

“Ek het sedert ek begin foto’s neem het, gesien hoe my werk verbeter het. Ek volg verskeie fotograwe op Instagram wat graag menings uitruil en aanbevelings maak.

“Ek moet wel byvoeg dat hoewel daar sekere goue reëls in fotografie is, moet jy ook dit doen wat vir jou reg lyk en voel.”

Die Botes-egpaar woon al dekades op die dorp, maar het nie baie wildtuin toe gegaan met hulle kinders nie en het eers die avontuur daarvan ontdek toe mnr. Botes se belangstelling in fotografie begin het.

“Ons leer meer oor die natuur elke keer wanneer ons die wildtuin besoek. Ná vyf jaar is ons steeds nie uitgekuier in die Kruger nie.

“Elke keer gaan ek terug om te kyk waarop ek kan verbeter. Ek het baie kere reeds ’n foto-idee in my kop nog voordat ek dit afgeneem het.

“Elke dier het iets besonders, van impalas tot luiperds,” het mnr. Botes vertel.

Nagdiere is die moeilikste is volgens mnr. Botes die moeilikste om af te neem, “want jy het geen beheer oor die liggehalte en hantering wanneer iemand anders die ligte vashou nie”.

Lees ook: Photographer Ian Haggerty is a knight in shining armour for animals

Soos bykans elke wildtuinbesoeker, slaan die Botes-egpaar ook gereeld die remme aan wanneer hulle ’n ander motor langs die pad sien staan.

“Een van ons snaakste ondervindings was toe ons ’n veldwagtersvoertuig in die pad sien omdraai het en ons toe besluit het om dit agterna te sit.

“Ons het gereken dat hulle waarskynlik van ’n interessante besigtiging oor hul radio gehoor het en toe daarheen op pad was. Ons moes naderhand redelik vinnig ry om by te bly.

“Nóg ’n voertuig het agter ons ingeval en so jaag ons toe agter die veldwagtersvoertuig aan op die Pabeni-pad en naderhand in die rigting van die Kruger-hek. By die hek spring ’n passasier uit die voertuig en hardloop toilet toe!

“Ons kon nie anders as om net te lag nie,” het mnr. Botes vertel. Die fotografie is nou al só by mnr. Botes ingeburger dat hy al ’n nag of twee in koue sweet wakker geskrik het oor ’n fotogeleentheid wat hy nie betyds raakgesien het nie.

“Foto’s is vir my so ’n intieme ding. Dit bring die herinneringe terug en laat jou weer daardie oomblik toe jy die foto geneem het, beleef. ”

Mnr. Botes het ’n bewondering vir landskap- en panorama-fotograwe en sal dit nog wil aanpak.

Lesers wat nog van sy foto’s wil sien, kan sy Faceboekblad Röper Botes Photography opsoek of hom op Instagram volg by @RoperBotesPhotography.

Sebras deur Röper Botes.
’n Olifantprofiel deur Röper Botes.
Mnr. Röper Botes bestudeer sy nuwe speelding.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button