Engela Scheepers van Bethal sterf na weke in hospitaal
Vrou van Bethal kry massiewe hartaanval op Moedersdag.
BETHAL – Me. Engela Scheepers (83) is Saterdag, 19 Mei in die Life Wilgeheuwel Hospitaal dood.
Sy het die afgelope twee jaar in ’n aftreeoord op Groot Brakrivier gebly en in April na Bethal gereis vir haar kleinkind se troue en om by haar vriendinne op Bethal te kuier.
“Sy en haar vriendin, tannie Ella van der Merwe, wat 86 is, het glo vir die oumense koekies gebak,” het me. Scheepers se dogter, me. Lenel Roux, laggend vertel.
Terwyl me. Scheepers in die kombuis besig was met die koekies, het sy glo net agteroor geval.
Me. Van der Merwe het die buurvrou geroep en hulle kon me. Scheepers weer bykry, maar sy was baie deurmekaar.
Sy is later in die hoësorgeenheid van Mediclinic Highveld opgeneem en het vermoedelik ’n bloedklont gekry en ’n skedelbreuk opgedoen tydens die val.
Sy het later bloeding op haar brein gekry en is na die Life Wilgeheuwel Hospitaal oorgeplaas.
Me. Scheepers het op Moedersdag ’n massiewe hartaanval gekry en is die Saterdag daarna in die hospitaal dood.
Sy sal op Bethal onthou word as iemand wat vir jare by die VLU as lid en voorsitter betrokke was.
Me. Roux het gesê haar ma het ’n vol lewe gehad.
“Sy het drie keer by my kom kuier toe ek en my gesin in Sjina en Australië gewoon het,” het me. Roux gesê.
Sy en haar gesin woon die afgelope twee jaar in Australië.
Me. Scheepers en die drie jonger geslagte was vir Moedersdag verlede jaar bymekaar om dié spesiale dag te vier.
Me. Roux het haar ma as ’n wonderlike en merkwaardige vrou beskryf.
“Sy was streng en ferm en ’n baie sterk vrou.
“Na my pa se dood het sy al die jare alleen aangegaan.”
Mnr. Willem Scheepers is 33 jaar gelede in ’n motorongeluk dood. Me. Scheepers was ook in die ongeluk.
“Ons het destyds nie regtig besef hoe jonk my ma eintlik was toe my pa dood is nie.”
Me. Scheepers was vir jare ’n huishoudkunde-onderwyser, eers op Ermelo en later op Bethal.
Haar roudiens was Vrydag, 25 Mei in die Afrikaanse Christelike Kerk op Bethal.



