Local newsNews

Gemeenskap, Oregon Spur en Hoërskool Oosterland bied geldinsamelingsgeleentheid aan vir Bianca Fourie

Bianca Fourie word Vrydag 1 Junie geopereer.

SECUNDA – Hoërskool Oosterland, die eienaars van Oregan Spur en die gemeenskap het hande geneem en genoeg geld vir Bianca Fourie (16), die gr. 9-leerder van Hoërskool Oosterland wat dringend ’n rugoperasie moet ondergaan, ingesamel.

Die Child Medi Organisation, ’n nie-winsgewende organisasie, het Bianca se geldsake vir die operasie hanteer en me. Nadia de Waal van dié organisasie, het Maandag gesê hulle het reeds die geld vir die operasie aan die hospitaal oorbetaal.

Dit sluit egter nie die koste vir ekstra bloed of die hoeveelheid dae wat Bianca in die hospitaal sal moet bly, in nie omdat dit nog nie bepaal kan word nie.

Dit sluit ook nie die brandstof en haar ouers se verblyf in nie.

#HelpBiancaFourie

Die arena voor Oregan Spur, John Dory’s en Pannarottis was Donderdagaand, 24 Mei gepak tydens ’n geldinsamelingsaand en PJ Pretorius het vir die vermaak gesorg.

Bianca, haar ouers en boetie het die aand bygewoon en die arena is met kleurvolle ballonne en ander versierings opgemaak.

Mense kon ’n bedrag betaal en ballonne bars met pryse in of ’n lootjie koop by die Teksa Modelvliegtuigklub wat ’n modelvliegtuig as prys uitgeloot het.

Bianca word op 31 Mei in die Life Faerie Glen Hospitaal opgeneem en sy word op 1 Junie geopereer.

Dié operasie kan tot sowat ses ure duur.

Bianca is met skoliose gebore wat die laaste vier jaar só vererger het dat sy sedert die begin van die tweede kwartaal nog nie kon teruggaan skool toe nie en nou daagliks aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel is.

Die skoliose veroorsaak dat haar ruggraat só skeef is dat dit haar organe inmekaar druk en sy sukkel om normaal asem te haal.

Bianca sien daarna uit om weer skool toe te gaan en in Hoërskool Oosterland se orkes te speel as die operasie verby is.

Bianca Fourie (middel) by mnr. Jan Letsoalo (bestuurder: Cappuccinos), me. Thandi Nkonyane (bestuurder: Panarottis), me. Melanie Mbala (bestuurder: John Dory’s), me. Liné de Vries (skakelbeampte: Hoërskool Oosterland) en mnr. Armand Riekert (mede-eienaar: Oregon Spur) by die geldinsamelingsgeleentheid wat Donderdag, 24 Mei vir Bianca se rugoperasie gehou is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button