Hoërskool Secunda bied manne-ontbyt aan met Dawie Spies as spreker
Pa’s geniet geleentheid by Rondekerk.
SECUNDA – Die motiveringspreker en stigter van die Manne van die Woord-bediening, mnr. Dawie Spies, het Saterdagoggend, 26 Mei by Hoërskool Secunda se manne-ontbyt pa’s en seuns toegespreek.
Dié geleentheid is by die Rondekerk aangebied en volgens mnr. Paul van den Berg, direkteur van bemarking, openbare betrekkinge en advertensies van Hoërskool Secunda, was dit ’n geleentheid waar pa’s en seuns tyd saam kon bestee in die teenwoordigheid van God.
Mnr. Spies het gesê baie mans sukkel om ’n verhouding met God te hê omdat hul pa’s hulle nooit gedruk het of gesê het hulle is lief vir hulle nie.
“Hoe jy oor jou kind voel, is nie eers ’n druppel in die emmer oor hoe God oor jou voel nie,” het mnr. Spies gesê.
“Weet jy wat is baie belangriker vir jou seun as om te presteer?
“Dit is om ’n verhouding met jou te hê, dan kry hy sommer 80 persent op akademiese gebied.”
Symphony’s Café het kos gemaak vir die manne-oggend en die borge vir die geleentheid was Pinnacle Auto, Slingervel en die pa’s van Hoërskool Secunda.
Mnr. Van den Berg het almal wat betrokke was en gehelp het, bedank.



