
Sakhile Mndebele (27) is Dinsdag, 21 Mei in die streekshof op Ermelo deur streekslanddros Eben Jonker skuldig bevind aan veediefstal en opsetlike saakbeskadiging.
Die klagtes is saamgevoeg vir vonnisdoeleindes en Mndebele is gevonnis tot effektief vier jaar gevangenisstraf. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Dit spruit uit ’n voorval wat op 27 Julie 2017 op die plaas van mnr. Phillip Randall in die Sheepmoordistrik plaasgevind het.
Mnr. Randall het getuig dat hy reeds die vorige aand op twee geleenthede moes uitgaan nadat sy sekuriteitmaatskappy hom in kennis gestel het van persone wat probeer het om sy skape te steel.
Mnr. Randall het kop gehou en foto’s van skoenspore op die toneel geneem. Tydens ’n derde voorval om 4.30vm die volgende dag, het Mndebele en nog ’n onbekende persoon daarin geslaag om agt skape te steel. Mnr. Randall was weer eens op die toneel en het foto’s van skoenspore geneem.
Die verdagtes is om 11vm deur ander veewagters agt kilometer van waar die skape verwyder is, opgemerk en Mndebele was steeds besig om dié skape aan te jaag.
Met mnr. Randall se aankoms op die toneel het Mndebele die skape in die bos gelos en gevlug.
Die skaapwagter het omstreeks 1nm weer vir Mndebele gewaar waar hy probeer het om skape te steel.
In die proses het Mndebele dele van die draadheining verwyder om die skape deur te jaag.
Die skaapwagter het nabye hulp ontbied en Mndebele is vasgekeer.
Mnr. Randall het met sy aankoms die skoenspoor vergelyk met Mndebele se skoen en gemerk dat dit dieselfde spoor is.
Die staatsaanklaer, mnr. Charles Lloyd, het tydens vonnisoplegging aangevoer dat die effek van skaapdiefstal op die Hoëveld oor die jare heen duidelik sigbaar is. Verskeie boere het in die verlede reeds getuig dat hulle hul skaapboerdery gestaak het weens veediefstal en het baie plaasarbeiders ook hul werk verloor.
’n Beroep is weer op die gemeenskap gedoen om nie lukraak skaapkarkasse by mense op straat te koop nie. Sodanige kopers kan hul ook aan veediefstal skuldig maak.
Kopers moet seker maak dat ’n persoon wat sulke vleis verkoop, inderdaad die eienaar daarvan is en aandring op ’n kwitansie of ander skriftelike bewys van die transaksie.



