22-maande-oue kankervegtertjie, JE Kruger, verloor stryd
Bloedvergiftiging vermoedleik die oorsaak van JE se dood.
SECUNDA – Jan Ernst (JE) Kruger, die 22-maande-oue seuntjie wat verlede jaar met neuroblastoomkanker gediagnoseer is, is vroeg Vrydagoggend, 1 Junie in die hospitaal dood.
JE het in Februarie ’n operasie ondergaan om die kanker te verwyder en hoewel die uitslae getoon het dat JE kankervry was, wou dokters nog chemobehandeling gee om seker te maak al die kankerselle is dood.
Die chemobehandeling het JE egter sy lewe gekos omdat sy liggaam nie meer sterk genoeg was om terug te baklei nie.
Neuroblastoomkanker kom in die senuweestelsel voor en was in JE se buik.
JE het op 27 Mei vir sy laaste chemobehandeling gegaan en hulle was skaars tuis, toe JE weer begin sleg voel het en sy ouers hom weer teruggeneem het na die hospitaal in Pretoria.
Dokters het eers gesê dit was ’n maagvirus en hom vir dit behandel, maar sy liggaam het nie op die behandeling reageer nie en sy bloeddruk was baie hoog.
’n Pediater het hom ondersoek en gesê dit is sy lewer.
Hy is op 30 Mei na die Wits Donald Gordon Hospitaal oorgeplaas omdat daar dokters is wat in die lewer spesialiseer.
JE is daar met bloefvergiftiging (septisemie) in sy lewer gediagnoseer en dokters het gesê sy ander organe sou ook binnekort begin ingee.
Hy is onder verdowing geplaas en was aan asemhalingsmasjiene gekoppel. Sy ma, me. Mandie Kruger, het Donderdagaand ’n boodskap op sosiale media gestuur dat hulle besig is om hul seun te groet en dat mense hulle steeds in hul gebede moet hou en dat wonderwerke steeds gebeur.
Me. Kruger het op sosiale media gesê sy waardeer almal se oproepe, boodskappe en ondersteuning, maar is op dié stadium te emosioneel om te praat en dat haar hart in miljoene stukke gebreek is.
JE se sesjarige sussie, MarlieAnne, het verlede jaar, ’n maand voordat hulle uitgevind het JE het kanker, haar hare wat tot op haar boude gehang het, gesny om aan Kansa te skenk.
JE se diens vind Donderdag, 7 Junie om 10vm by die Lighthouse Kerk op Secunda plaas.
Lees ook: Dokters kan niks meer vir nege-jarige seuntjie met neuroblastoomkanker doen nie




