Bianca Fourie sterk goed aan na lewensbelangrike operasie
Gemeenskap, Hoërskool Oosterland en ondernemings het genoeg geld vir operasie ingesamel.
SECUNDA – Bianca Fourie (16), die gr. 9-leerder van Hoërskool Oosterland wat met skoliose gebore is en dringend ’n rugoperasie moes ondergaan, sal hopelik voor die einde van die jaar weer kan terugkeer skool toe.
Die gemeenskap van Secunda, ondernemings en Hoërskool Oosterland se onderwysers, leerders en ouers het hande geneem en binne ’n paar maande genoeg geld vir die operasie ingesamel.
Sy is op 1 Junie in die Life Faerie Glen Hospitaal in Pretoria geopereer.
’n Oud-Secunda-inwoner en Hoërskool Oosterland-leerder, mnr. Joe Koekemoer, is die hospitaalbestuurder van die Life Faerie Glen Hospitaal en die operasie wat R700 000 by ander hospitale sou kos, het minder as R300 000 by Life Faerie Glen gekos.
Mnr. Koekemoer het by sy broer, mnr. Ignus Koekemoer wat steeds op Secunda bly, gehoor van Bianca se toestand nadat hy vir hom ’n video oor Bianca gestuur het.
“Ek het die video vir een van die dokters by die hospitaal gewys en gevra of hy kans sien om die operasie te doen,” het mnr. Koekemoer vertel.
Dr. Etienne Coetzee, wat in skoliose spesialiseer, het ingestem en die operasie op Bianca uitgevoer.
Volgens mnr. Koekemoer is een van die redes waarom die Life Faerie Glen Hospitaal die operasie vir die helfte minder as ander hospitale kon uitvoer, omdat hulle spesialiste het en dan hoef pasiënte nie eers vir drie maande in traksie te lê voor die operasie nie.
Mnr. Koekemoer het gesê dit is ’n baie groot operasie wat soms tot ses ure kan duur om uit te voer.
Bianca sterk tans in dié hospitaal aan en was Maandag nog in die hoërsorgeenheid van die hospitaal en sou Dinsdag oorgeplaas word na ’n gewone saal.
Volgens haar ma, me. Madeleen Fourie, het Bianca nog baie pyn, maar gebruik al minder medikasie vir pyn.
Die dokters het op 3 Junie een van die dreineringspype uitgehaal.
Dié operasie was lewensnoodsaaklik vir Bianca omdat die skoliose so erg geraak het, dat dit al haar organe vasgedruk het en sy die afgelope paar maande pal aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel was.
Sy kon sedert die skoolvakansie na die eerste kwartaal vanjaar nog nie weer teruggaan skool toe nie en het heeltyd pyn gehad en gesukkel om te loop.
Bianca sien daarna uit om weer terug te gaan skool toe en in Hoërskool Oosterland se orkes te speel.
Haar familie is dankbaar teenoor almal wat gehelp en geld gegee het om die operasie moontlik te maak, asook mnr. Koekemoer en die hospitaalpersoneel.



