Local newsNews

Monique Knipe stig organisasie om behoeftiges op Secunda en omliggende dorpe te help

Teks CCF benodig teëls en iemand wat kan teël, die plafon kan vervang, ’n elektrisiën wat bereid is om gratis te werk en glas vir twee vensters om dié pleeghuis weer reg te maak.

SECUNDA – Me. Monique Knipe het met die idee gekom om ’n nie-winsgewende organisasie te begin wat ander welsynsorganisasies en behoeftiges in die Govan Mbeki Munisipale gebied help.

“Ons wil almal bedien, van ou mense tot skoolgaande kinders,” het me. Knipe gesê.

Sy het saam met haar ma, me. Magda van Lienden, en twee vriende, mnr. Glen Mitton en me. Elmarie Erasmus, die organisasie Teks Community Care Foundation (Teks CCF) op die been gebring.

Mnr. Glen Mitton is een van die stigters van die Teks CCF-organisasie.

Mnr. Mitton het in April aan sy vriende ’n boodskap gestuur dat hy geskenke soek vir sy verjaarsdag, maar iets vir ’n behoeftige kind.

Een van sy vriende, mnr. George Lyon, het besluit om dieselfde vir sy 70ste verjaarsdag te doen en Teks CCF het reeds van die skoene, klere en komberse wat ingesamel is aan behoeftige kinders uitgedeel.

Me. Magda van Lienden het Woensdag, 30 Mei haar 60ste verjaarsdag gevier en ook al haar vriendinne gevra om spesifiek skoene vir kinders te bring as geskenke.

Die organisasie se nuutste projek is om ’n pleeghuis in die omgewing wat vyf pleegkinders van onderskeidelik een, vier, vyf, agt en 12 jaar oud huisves, op te knap.

Dié pleeghuis se dak het gelek en inmekaar geval weens die reën en meeste van die matte is beskadig en moes verwyder word.

Die klere en komberse wat tydens mnr. George Lyon se 70ste verjaarsdag ingesamel is.

Daar is tans geen vloerbedekking in dié huis nie en daar is ook ’n elektriese probleem wanneer die geiser aangeskakel word.

Teks CCF benodig teëls en iemand wat kan teël, die plafon kan vervang, ’n elektrisiën wat bereid is om gratis te werk en glas vir twee vensters om dié pleeghuis weer reg te maak.

Vier atlete van Secunda het reeds ingespring en betrokke geraak by dié projek.

Rehan Krige, Leon Nienaber, Francois Erasmus en Wicus Breed het op 3 Junie aan ’n ystermankompetisie in Durban deelgeneem en besluit om alle donasies wat hulle ontvang, aan Teks CCF te skenk.

Die ystermanwedloop behels 1.9km seeswem, 90.1km fietsry en 21.2km hardloop wat binne agt ure en 30 minute voltooi moet word.

Belangstellendes kon dié vier ystermanne met enige bedrag borg.

Een van die organisasie se ander projekte is Koue Voete Warm Harte waar mense tekkies, stewels, kerkskoene of skoolskoene vir kinders kan skenk.

Teks CCF het ’n ooreenkoms met ’n onderneming wat Crocks-skoolskoene en Tomy-tekkies vir R80 per paar verkoop.

Belangstellendes kan ook geld gee in plaas daarvan om skoene te gaan koop.

“Die doel van Teks CCF is om almal in die gemeenskap te bedien en die hande van ander organisasies wat reeds bestaan, te versterk,” het me. Knipe gesê.

“Ons wil al die ouetehuise en skole besoek en spesifieke behoeftebepalings doen en dan daarvolgens werk.

“Baie mense skenk byvoorbeeld met Kersfees speelgoed aan pleeghuise, maar dan het daardie pleeghuise dalk niks meer kos nie.

“Dit is waarom ons baie spesifiek wil wees en presies in dit wat benodig word, wil voorsien.

“Mense kan van hul tyd ook gee.

“Ons gaan van tyd tot tyd nutsmanne en elektrisiëns, byvoorbeeld, nodig hê om ons te help.”

Me. Knipe het die projekte en behoeftes in verskillende afdelings opgedeel, van groot projekte tot klein projekte, en aaneenlopende projekte soos kos, elektrisiteit en water wat maandelikse behoeftes is.

Sy het ook ooreenkomste met dokters en tandartse gemaak dat behoeftige kinders wat byvoorbeeld in pleeghuise bly, hulle kan besoek en inwoners wat dié organisasie wil ondersteun kan ook direk by dié dokters of tandartse geld inbetaal.

Teks CCF beplan om jaarliks ’n groot geldinsamelingsgeleentheid soos ’n gholfdag aan te bied.

“Ons is heeltemal deursigtig en sal jaarliks vier vergaderings hê om die publiek in te lig en te wys presies wat ons met die geld doen en waar en hoe en wanneer dit aangewend is.”

Dié organisasie het reeds ’n webwerf en ’n Facebookblad en belangstellendes kan daar meer inligting kry, of skakel me. Knipe by 082 577 2168.

Me. Monique Knipe en me. Magda van Lienden met van die skoene wat me. Van Lienden vir haar 60ste verjaarsdag ingesamel het om aan behoeftige kinders te gee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button