Local newsNews

Brandbestrydingspan op Ermelo staan gereed om vure te blus

Albei mans is dit eens dat dit ’n eensame werk is wat hulle vir lang tye van hul gesinne af wegneem.

Die wintermaande op die Hoëveld bring nie net koue nie, maar ook brande mee en die manne van Working on Fire en hul geel vliegtuig en helikopter staan gereed om te help om dié vure te blus.

Ermelo is van Junie tot Oktober Riaan Prinsloo, Henning de Beer en Gary Shuttleworth se basis.

Henning woon in die Kaap, Riaan op Middelburg en Gary is van Pennington in KwaZulu-Natal.

Tydens ’n kuier saam met Riaan en Gary het hulle meer vertel oor wat hul werk en brandbestryding vanuit die lug behels.

Henning en Gary is die helikoptervlieëniers en Riaan is die vlieënier van die spottervliegtuig.

Om as brandbestrydervlieënier te kwalifisieer, moet ’n vlieënier ’n kommersiële vlieglisensie en reeds 1 000 vliegure agter die rug hê. Selfs dan moet hulle ook die induksieproses slaag voordat hulle die wegholbrande die stryd kan aansê.

Hul basis is in ’n kantoor langs die aanloopbaan van die Ermelo-vliegveld en van daar wag hulle vir die oproep om na ’n veldbrand ontplooi te word.

Dit is belangrik om te weet dat brandbestrydingsvliegtuie nie bedoel is om op hul eie vure te beveg nie. Dié hulpbron is wel uiters effektief wanneer dit in samewerking met die Working on Fire-grondspanne funksioneer.

https://highvelder.co.za/63891/onderneming-vernietig-tydens-brand/

’n Veldbrand benodig brandstof, suurstof en hitte om te bestaan. Die grondspanne maak gebruik van vuurslaners om suurstof te elimineer, maar sodra die vlamme hoër as 1,8m raak, raak die situasie te warm en kan die vuurslaners nie naby genoeg aan die vuurlyn kom om hul werk te doen nie.

Deur water vanuit die lug op die vlamme te stort, verminder die vlieëniers die hitte en dit gee aan die vuurvegters die kans om in te beweeg en die oorblywende kooltjies te blus voordat dit weer opvlam.Hul kliëntebasis bestaan hoofsaaklik uit brandbestrydingsverenigings, plaaslike munisipaliteite, grondeienaars, onder andere Mondi, Sappi en boere van die omgewing, en hulle werk nou saam met mnr. Jaco Johnstone, brandweerhoof van Msukaligwa.

Nadat hulle die oproep na ’n brand gekry het, is die spottervliegtuig, ook genoem die beheer- en kontrolevliegtuig, eerste op die toneel om die situasie vanuit sowat 500 tot 700 voet in die lug op te som.

Daar word bepaal waar die grootste risiko is en hoewel die vlieënier raad gee, maak die grondeienaar of kliënt die besluit oor watter rigting die brandbestryding gaan inneem.

Die helikopter kan 1 000 liter water op ’n slag vrylaat en die bommervliegtuig 3 000 liter, en dit verg groot konsentrasie vir die vlieënier in die lug om die veiligheid van die mense op die grond te verseker.

Riaan het gesê hoe vinniger die span van Working on Fire op die vuur kan kom, hoe vinniger kan dit geblus word en dat kliënte hulp eerder vroeër as later moet inroep.Vanuit die vliegtuig en helikopter kan brande op die plekke waar voertuie nie kan kom nie, bestry word.

Dié span werk net bedags en is teen sononder terug op die grond.

Albei die mans was dit eens dat dit ’n eensame werk is wat hulle vir lang tye van hul gesinne af wegneem. Vir vyf maande op ’n slag is hul lewens beperk tot die basis en die span waarmee hulle saamwerk.

Riaan is getroud en is die pa van twee kinders en Gary, ook getroud, het vier kinders.

Burgerlugvaart bepaal dat die vlieëniers elke sewende dag ’n rusdag en na elke ses weke ’n ruskans van twee weke neem. Tydens die twee weke se ruskans staan ’n aflosvlieënier in.

Hoewel niks hulle verhoed om hul gesinne na die basis te laat kom in die ses weke wat hul op bystand is nie, is dit nie altyd prakties uitvoerbaar nie en kan dit ook duur raak en daarom sien sommige van die vlieëniers nie hul gesinne so gereeld as wat hulle graag sou wou nie.

Die mans was dit egter eens dat dit ’n passie vir vlieg is wat hulle dié werk laat doel en dat dat dit elke keer baie bevredigend is wanneer ’n vuur suksesvol bestry is en dat hulle dan voel dat hulle wel ’n verskil maak.

In die somer bestry hulle brande in die Kaap waar die fynbos teen die berge gereeld in die slag bly.

Vir nou sal die geel vliegtuie en helikopter gereed staan om brande op Ermelo en in die omgewing te blus.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button