Talento Mulher Vroue Landbou-unie op Ermelo is meer as net tannies wat koek eet en tee drink
Talento Mulher beskryf die VLU as ’n leerskool waar vroue hulle talente ontdek en ontgin.

Na ’n kuier saam met die vroue van die Talento Mulher Vroue Landbou-unie-tak (VLU) is dit duidelik dié nie net ’n groep is waar tannies koffie drink en koek eet nie.
Dié vroue is vanjaar hard aan die werk om geld in te samel vir die jaarlike VLU-konferensie wat vroeg in volgende jaar op Ermelo aangebied word.
Die Talento Mulher-tak het vanjaar hul 22ste bestaansjaar gevier en het tans 12 lede wat maandeliks bymekaar kom.
Hoewel daar baie vroue-organisasies is, maak die handvaardighede wat by die VLU aangeleer word, die groep uniek.
“Ons streef daarna om vroue op te hef, hul vrouwees te laat uitleef en die nodige vaardighede aan te leer,” het me. Ans Barnard, voorsitter van Talento Mulher, gesê.
Die organisasie het wel by die moderne tyd aangepas, maar maak steeds werk daarvan dat sekere vaardighede soos borduurwerk nie verlore gaan nie.
Die groep is nie net vir vroue wat dit alles kan doen nie, maar ook om vroue van vandag die vaardighede te leer sodat hulle ’n bydrae kan lewer tot hul gemeenskap en familie.
Vroue van die VLU leer om naaldwerk te doen, te brei en te hekel en vaardighede soos blommerangskikking en fotografie word ook bemeester.
In die kombuis word die kuns om te bak en produkte te bottel ook opgeskerp.
Elke tak hou ’n maandelikse vergadering en daar word ook jaarliks ’n konferensie aangebied waartydens erkening gegee word aan die werk wat deur die jaar verrig is.
Hoewel hulle nie ’n liefdadigheidsorganisasie is nie, is die projekte wat deur die vroue aangepak word op die gemeenskap gerig.
Talento Mulher is ’n Duitse naam wat talentvolle vroue beteken.
Die vroue het al menige projekte op Ermelo aangepak en was ook by die tassieprojek betrokke waartydens hulle skooltasse vir ’n skool op Breyten bymekaar gemaak het met alles wat ’n gr. 1-leerder benodig.
Hulle het verlede jaar ’n projek vir vroue in die tronk aangepak.
Een van die lede het die groep beskryf as ’n veilige plek vir vroue, waar hulle kan afpak en kan weet dat die ander haar sal optel.
“Hier bou jy vriendskappe wat jy vir altyd sal koester,” het een van die lede vertel.
Hulle nooi alle vroue om deel van die VLU te word.



