KINROSS – Mnr. Buks Symington se sonde met die stortingsterrein wat aan sy plaas, Kleinbegin, naby die Kinross-gholfbaan grens, het geen einde nie.
As dit nie daagliks soos ’n sprinkaanplaag oor sy grond waai nie, dan brand sy weiding af weens die smeulende brande vanaf die asgate.
Meer as 50 hektaar weiding op mnr. Symington se plaas is Dinsdagaand, 4 September afgebrand weens ’n brand wat op die asgate ontstaan het.
Volgens mnr. Symington het die plaaslike brandweer wel vroeër die brand op die stortingsterrein geblus, maar van die smeulende oorskiet het later weer opgevlam en die vlamme is deur die wind aangeblaas.
“Die enigste plek waar my perde nog kon wei, het ook nou in die slag gebly. Nou is my diere totaal van voerbale afhanklik. Dit kos ’n fortuin!” het mnr. Symington gesê.
Die koerant het aan die begin van September berig oor mnr. Symington, asook veewagters van die omgewing se sorge met plastiek wat vanaf die asgate die wêreld vol waai.
Die eens pragtige munisipale gholfbaan op Kinross is ook nou besoedel met plastiek net waar ’n mens kyk.

Mnr. Symington het reeds verskeie vee verloor weens die plastiek wat in die weiveld beland en dan deur sy Jersey-melkkoeie en skape gevreet word. Hy was al genoop om die grootste deel van sy skaapkudde te verkoop.
Sy beeste moet nou in die kraal bly en van bale leef, want hy wil dit nie waag om die diere in die weiland in te stuur nie.
Mnr. Symington het die dag na die brand by die Kinross Polisiestasie gaan aanklop. Hy het daarna vir die soveelste keer Govan Mbeki Munisipaliteit besoek.
“Ek is prontuit vertel dat al dagvaar ek die munisipaliteit, is daar geen geld om my te vergoed nie.”
Volgens ’n bron wat verkies om anoniem te bly, word die Kinross-stortingsterrein lankal nie meer wettig bedryf nie omdat dit nie aan munisipale wetgewing voldoen nie.
Mnr. Benzi Soko, nuwe munisipale woordvoerder, het teen spertyd gesê die munisipaliteit ondersoek die probleem en aantuigings en sal terugvoering gee sodra die ondersoek afgehandel is.
Lees ook:
https://www.citizen.co.za/ridge-times/123417/boer-van-kinross-gaan-gebuk-onder-verliese-wat-hy-weens-plastiek-storting-ly/



