Local newsNews

Marcelle Bester lei Famsa Hoëveldrif

Direkteur geniet ‘scrapbooking’ en kosmaak.

SECUNDA – Me. Marchelle Bester (33) is al die afgelope 10 jaar by Famsa Hoëveldrif betrokke en is die afgelope vyf jaar die direkteur van dié tak wat ook Mbombela (Nelspruit) en Naas, ‘n klein dorpie naby die Komatipoort-grens, insluit.

Sy het in 2008 by Famsa as maatskaplike werker begin nadat sy vanaf die Kaap na Secunda verhuis het.

Me. Bester het in die Kaap grootgeword en na skool wou sy eers vir sielkunde studeer, maar die Universiteit van Stellenbosch het hul graadkursus vir sielkundestudies gestop en me. Bester het vir ‘n BSC-graad in menslike lewenswetenskappe begin studeer.

“Ek het in die fisikaklas gesit en ons het Newton se wette behandel. Ek het gesit en wonder hoe Newton se verhoudings met sy vriende en familie was en het besef ek was in die verkeerde studierigting,” het me. Bester gesê.

Sy het die studenteraad gaan sien om raad oor haar studierigting te kry en hulle het voorgestel dat sy eerder vir maatskaplike werker studeer.

Na haar studies het sy na Secunda verhuis waar haar vriend, nou haar verloofde, reeds as ingenieur gewerk het.

Me. Bester het gesê sy ondervind nie baie slegte dae in haar werk nie, maar een van die slegste dae was toe ‘n ma haar laerskoolseuntjie een Vrydagmiddag by haar kantoor afgelaai en gesê het sy is klaar met hom, me. Bester moet na hom omsien.

“Ek het nie geweet wat om te doen nie, want al die ander organisasies wat kinders in veilige bewaring of pleeghuise kan plaas, was reeds toe. Ek het my vriend geskakel. Ons het in ‘n kommune gewoon en ek het gevra of ek die seuntjie huis toe kon neem.”

Me. Bester het egter iemand in die hande gekry wat die seuntjie in ‘n plek van veilige bewaring kon plaas.

“Ek het daardie dag besef dat kinders die resultaat van hul ouers is en hulle reflekteer dit wat in die gesin aangaan.

“Ek het ook besef as jy ‘n maatskaplike werker is, is jou naasbestaandes ook deel van die beroep.”

Haar beste dae is elke keer wanneer die organisasie ‘n deurbraak maak in ‘n saak en ‘n kind se lewe kan verbeter.

“Dit is ‘n moeilike werk en dit is goed om klein wonderwerke te sien wanneer ons ‘n deurbraak maak.”

Me. Bester het in 2014 as een van haar beste jare beskryf. Sy het in dié jaar na Europa getoer en haar vriend, mnr. Cyril Victor, het haar gevra om te trou.

“Ons het in Parys by die Arc de Triomphe verloof geraak.

“Ek wou teruggaan bus toe, toe sê Cyril ons moet net eers die oomblik inneem en kan later teruggaan bus toe. Toe ek weer sien, toe sak hy op sy knie en vra my om te trou.

“Dit was ‘n groot oomblik vir my, maar terselfdertyd het ek gedink ons was in ‘n vreemde land en kon nie dadelik ons geliefdes skakel om dié groot oomblik mee te deel nie.”

Me. Bester het ‘n kreatiewe streep en dit is soms vir haar ‘n uitdaging om binne die boks van reëls en regulasies as direkteur te bly.

“Dit is waarom ek ‘scrapbooking’ so baie geniet, want dit gee my ruimte om my kreatiwiteit uit te leef en ‘n goeie balans in my lewe te handhaaf tussen werk en ontspanning.”

Sy is deel van ‘n groep vroue wat ‘scrapbooking’ doen en weekliks bymekaar kom.

Sy geniet dit ook om kos te maak, maar hou niks van bak nie.

“Ek dink dit is omdat ‘n mens ook vasgestelde reëls moet volg, soos die oond moet op soveel grade wees en dit moet vir so lank bak.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button