
SECUNDA – Mnr. Nico Coetzer se lewe het onherroepelik in 2014 verander toe sy regterbeen geamputeer is, maar hy het besluit om positief te bly en die lewe vierkantig in die oë te kyk.
Hy was saam met sy gesin by ’n familie-reünie op Zeerust en het die week na die reünie begin siek word en ook gesien daar is ’n blaas onder sy regtervoet toe hulle na Secunda teruggekeer het.
Hy het ’n dokter gaan sien en is later in die hospitaal opgeneem waar daar bevind is dat hy infeksie gehad het.
Mnr. Coetzer was tussen April en Junie gereeld in die hospitaal. Die bene in sy voet het begin verbrokkel en die dokter het gesê hulle sou sy voet moes amputeer.
“Ek het daarteen baklei en gesê ek aanvaar dit nie,” het mnr. Coetzer gesê.
Hy het ’n ander dokter gesien wat gesê het dat mnr. Coetzer septisemie in sy voet het.

Dié dokter het vir mnr. Coetzer gesê hy sou sy voet kon red.
Die septisemie het egter teen September mnr. Coetzer se organe begin aantas en hy het vir die dokter gesê om eerder sy voet te amputeer.
“Ek was moeg daarvoor om so sleg te voel en siek te wees en ’n mens kan doodgaan van septisemie.”
Net voordat mnr. Coetzer in die teater ingestoot is om sy voet te amputeer, het hy vir die pasiënt wat langs hom gelê het, die verpleegsters en die dokters gebid.
“Toe ek uit die teater gekom het, was my voet af en toe moes ons daarop fokus om die septisemie gesond te kry.”
’n Week later is ’n deel van mnr. Coetzer se been geamputeer omdat die prostese nie net vir ’n voet gemaak kon word nie.
Hy het ’n prostese gekry en kan vandag steeds werk, self sy motor wat spesiaal vir hom aangepas is, bestuur en hy kan loop.
Hy kan net kort ente loop omdat sy been vinnig moeg word, maar hy gebruik ’n rolstoel as hy weet hy gaan lank op sy voete wees.
“Ek is positief en wil net met my lewe aangaan.”
Mnr. Coetzer het kort nadat hy die blaas onder sy voet gesien het, vermoed dit was weens ’n spinnekopbyt en het dit aan die dokters wat hom behandel het, genoem.
Een van die dokters het gesê as mnr. Coetzer vroeër na hom toe gegaan het, sou die kanse goed gewees het dat die infeksie en die spinnekopbyt reg behandel kon word en sy voet moontlik gered kon word.

Mnr. Coetzer moet binnekort ’n nuwe prostese kry omdat die een wat hy tans gebruik, nou te groot is.
“My stompiebeen raak kleiner en dit druk teen die prostese en maak my seer.”
Maar mnr. Coetzer is dankbaar dat hy nog leef.
“Ek is dankbaar teenoor die Here dat ek vandag hier kan sit en nog kan werk. Ek is ook dankbaar vir my vrou, Annelie, wat my so mooi bystaan en ondersteun.”
Mnr. Coetzer werk al bykans 30 jaar vir Sasol. Hy het eers in Sasol se produksie-afdeling gewerk en werk al die afgelope nege jaar as voltydse verteenwoordiger van Solidariteit op Sasol.
Hy het homself as gestremd by Sasol verklaar en het ander wat gebrekke het, aangeraai om dieselfde te doen.
“Baie mense is bang om iets te sê as hulle byvoorbeeld ’n sig- of gehoorgebrek het, want hulle is bang daar word teen hulle gediskrimineer.
“Ek dink dit is beter om dit te gaan verklaar.”
Mnr. Coetzer wil graag ander help wat dieselfde as hy deurmaak en het ’n forum vir gestremdes gestig.
“Min mense weet byvoorbeeld dat iemand soos ek ’n spesiale lisensie moet hê.
“Die Here het ’n doel met my lewe op aarde, al is dit om ander wat gestremd is te help en raad te gee sodat daar nie oor hulle geloop word nie.”
Hy het gesê Sasol was goed vir hom toe hy sy been verloor het en het sy badkamer opgegradeer en baie moeite gedoen, maar dit is tog vir hom hartseer dat hy nie deel van hul Khanyisa-skema kan wees nie omdat hy kwalifiseer vir BBEE weens sy gebrek.




