Lady Gracious 2015 woon nou op Secunda
Reinette Gibson lei die kinderkerk en bemoedig mense.
SECUNDA – Me. Reinette Gibson is ’n motiveringspreker en kinderkerkleier op Secunda en glo dit is haar roeping om mense te bemoedig en God se koninkryk te bou.
Nadat sy in 2015 die Lady Gracious-titel gewen het, het sy die geleentheid gekry om as motiveringspreker by geleenthede, vroue-oggende en skole op te tree en haar loopbaan as onderwyser het in die begin van vanjaar ’n nuwe rigting ingeslaan.
Me. Gibson het na skool by ’n prokureursfirma op Ladybrand waar sy grootgeword het, gewerk terwyl sy onderwys deur die pos studeer het.
Sy het vir sewe jaar as onderwyser in Pretoria gewerk voordat sy Pretoria vir Secunda verruil het en is tans voltyds die jeugleier by die Kruik Kerk.
“Dit was nog altyd my droom om motiveringspraatjies aan te bied en om mense hoop te gee,” het me. Gibson gesê.
“Die Here het al in 2013 vir my gesê ek gaan klaarmaak met die onderwys en voltyds in die bediening wees, maar ek het nie geweet wanneer dit gaan gebeur nie.
“Ek het in 2017 my eie planne begin maak en wou in Sjina gaan onderwys gee, maar toe werk my planne nie uit nie, want my dokumente was nie reg nie.
“’n Vriendin op Secunda met wie ek in 1995 laas kontak gehad het, het vir my gesê daar is ’n kerk op Secunda wat ’n jeugleier soek.
“Ek het vir haar gesê ek gaan dalk nog na Sjina toe gaan en soek nie ander werk in Suid-Afrika nie.
“Maar iemand anders het vir my Woord gegee en gesê dat ek voltyds in die bediening moet wees en ek het toe geweet die Here se Woord van 2013 gaan nou tot vervulling kom.”
Me. Gibson se lewenspad was nie altyd maklik nie en sy het haar ma in 2007 verloor toe sy dood is na ’n lang siekbed.
Haar ma is met alsoritus colitis, wat inflammasie in die dikderm veroorsaak, gediagnoseer.
Me. Gibson was verbaas toe sy die Lady Gracious-titel in 2015 gewen het en het gesê dié titel het baie deure vir haar oopgemaak om as motiveringspreker op te tree.
“Ek het in daardie jaar baie funksies bygewoon en geldinsamelingsgeleenthede gereël.”
Sy het ook by die Avril Elizabeth Tehuis vir gestremde mense betrokke geraak en gesê dit was erg om te sien hoe gestremd sommige van die inwoners van die tehuis was.
Me. Gibson het ook by Kansa betrokke geraak en al verskeie kere as motiveringspreker by Kansa-funksies opgetree.
Sy het in 2015 as haar genesingsjaar beskryf en gesê sy is emosioneel genees van die bagasie wat ’n mens soms vir jare saamdra.
Haar mentor en gebedsmaat is me. Cecilia Rautenbach.
“Cecilia was vir my soos ’n ma nadat ek my eie ma verloor het en het my onder haar vlerk geneem.
“Sy het my ook aangespoor om ’n werklike verhouding met die Here te hê.”
Me. Gibson gee ook berading en help mense tydens hul emosionele genesingsproses.
“God het ’n wonderlike plan vir elkeen van ons se lewens en ’n mens moet die meeste maak van dit wat jy het.”
Me. Gibson het ’n program op die Christelike internet-radiostasie, Elan Global Radio, van April tot Julie vanjaar gehad.
Haar program se naam was Op Pad met Jesus. Sy hervat dié program weer volgende jaar.
In haar vrye tyd beoefen sy graag fotografie en hou veral van natuurfoto’s, en sy geniet dit ook om te stap of om te lees.




