Bernice fokus op fiksheid en gesondheid
Sy het eers onderwys studeer, maar besef sy verkies fiksheid.
SECUNDA – Me. Bernice Wierenga is ’n gekwalifiseerde onderwyser, maar sy meen sy moes eerder vroeër in haar lewe haar daarop toegespits het om ’n fiksheidsinstrukteur te word.
“Gesondheid en fiksheid is my passie,” het me. Wierenga gesê.
Sy het ’n hoë intensiteitsopleidingsateljee op Secunda gehad.
Terwyl me. Wierenga aan die Universiteit van Stellenbosch studeer het, het sy ’n dansateljee daar oopgemaak wat spesifiek op volwassenes gefokus het.
Me. Wierenga en haar man, mnr. Berend Wierenga, het eers op Sasolburg gewoon en later na Secunda verhuis.
Sy het op Sasolburg en Evander as laerskoolonderwyser gewerk nadat sy haar praktiese opleiding in onderwys in Engeland gedoen het.
Die egpaar ken mekaar al sedert hulle 10 jaar oud was.
“Ons was saam op skool en het in matriek begin uitgaan,” het sy gesê.
Albei het op Komatipoort grootgeword en na skool op Stellenbosch gestudeer.
“Dit het toevallig gebeur. Ons het eers nadat ons albei al by die universtiteit ingeskryf het, uitgevind ons gaan Stellenbosch toe.”
Mnr. Wierenga is ’n ingenieur en het al in onder andere Ghana gewerk.
Me. Wierenga het vier jaar gelede op Secunda as ’n eiendomsagent gewerk, maar vinnig besef dit was nie vir haar nie en het haar ateljee oopgemaak.
Sy het dit later weer toegemaak en aanlynopleiding in fiksheid aangebied.
Me. Wierenga moes sedert November verlede jaar tot Julie vanjaar twee operasies ondergaan om vergroeisels te verwyder en terwyl sy wag om volkome te herstel, stap sy graag.
Sy is gekwalifiseerd om fiksheidsklasse, spinningklasse en boks aan te bied.
Sy werk deesdae voltyds as netwerkbemarker en bemark aanvullingmiddels.
Me. Wierenga glo nie in eetplanne nie en help mense eerder deur gesondheidswenke te gee wat hulle dan self en in hul eie tyd kan volg.
Die produkte wat me. Wierenga verkoop, help vir diabetes en cholesterol en hulle het agtergkom dit help ook vir gewigverlies.
In haar vrye tyd bestee me. Wierenga graag tyd saam met haar man en hul drie kinders.




